Predikante oor die jare hier gearbei
Dirk Postma en sy "laaste" gesin. Hy het toe reeds vier eggenotes oorleef. V.l.n.r. Lettie (later tweede vrou van prof. JA du Plessis (ook predikant van Pretoria gewees), D.Postma, Maria- nog 'n dogtertjie (later getroud met prof. JD du Toit (Totius) en mev. J.Postma (geb. Van Biljon) Agter Willem Postma (dr. O Kulis) en dan Breggie (later getroud met ds. JA van Rooy en heel regs Laurika (eerste vrou van prof JA du Plessis.
Postma is oorlede op Sondag 28 Desember 1890. Hier is sy graf in Burgersdorp met ook 'n monument bo die graf opgerig. Die begrafnisdiens is deur ds. MPA Coetsee (jnr) gelei met as teks 2 Kon.2:12- My Vader, my Vader, wa van Israel en sy perderuiters. Die gedenksteen op hierdie graf is twee jaar na Postma se dood in 1892 opgerig.
|
Ds. Dirk Postma (1859-1865)Die Geskiedenis van Dirk Postma voor sy koms na Suid-Afrika
Dirk (Durk) Postma is op 10 Januarie 1818 te Dokkum, Nederland gebore. Sy ouers was Pieter Pieters Postma en Lolkje Arjens Boekhout. Hy was die jongste kind en het ook nog twee broers (Pieter en Arjen) en ‘n suster (Tijtje) gehad. Die egpaar Postma was ongeskoolde arbeiders en die gesin het in eenvoud geleef. Na die dood van sy vader (1823), toe Dirk vyf jaar oud was, was die gesin finansieël in ‘n moeilike posisie en moes die weduwee en haar oudste seun die pot aan die kook hou. Dirk self het op 15- jarige leeftyd tot die arbeidsmark toegetree (as blikslagersknecht)[hulp vir ‘n loodgieter] en kon toe bydrae tot die versorging van sy moeder. Hy het dit bly doen tot sy in 1856 op 79-jarige leeftyd oorlede is. Die gesin was aanvanklik lidmate van Die Hervormde Kerk (staatskerk) van dokkum, maar het feitlik dadelik saamgegaan met die Afskeiding van 1834 (vergelyk volgende hoofdeel). Dirk Postma se moeder het hom streng en vroom opgevoed maar hy het waarskynlik nie baie formele skoolonderwys ontvang nie. In 1833, toe hy 15 jaar oud was, beleef hy ‘n verdieping in sy geestelike lewe, waarna hy hom voorneem om de wereldsche ijdelheden vir goed te laat vaar. Postma het hom vroeg in sy lewe al geroepe gevoel om predikant te word. Aanvanklik het ‘n bevriende predikant Postma met ‘n lening gehelp om verder te studeer. Hy het hom ingegrawe in bybelkennis, teologiese werke en die kerkgeskiedenis. Aangesien hy steeds voltyds gewerk het, moes hy hierdie studie saans en in sy vrye tyd onderneem. Toe die gesin Postma met die Afskeiding saamgaan, was die bevriende predikant egter nie meer bereid om Dirk te ondersteun nie, en hy moes sy studie vir eers staak. In 1838 het Postma belydenis van geloof afgelê in die Christelik Afgeskeie Kerk te wanswerd, een van die buurdorpe van Dokkum. Hier het ds S. van Velzen sy mooi potensiaal opgemerk. Postma word teen vergoeding aangestel om die katkisasie in die gemeente waar te neem en hy word later ook as oefenaar in die gemeente aangestel, wat beteken dat hy op sommige Sondae ‘n preek kon voorlees of ‘n “stigtelike woord” kon spreek. Terselfdertyd is daar in die klassis van wanswerd gekollekteer vir Postma se studies. In hierdie tyd verhuis postma ook van Dokkum na Wanswerd. In Junie 1839 word Dirk Postma deur die klassis van Wanswerd aan ds. T.F.de Haan toevertrou vir verdere opleiding as predikant. Ds.De Haan was baie goed gekwalifiseer in die antieke en klassieke tale en is in 1854, toe die Teologiese Skool Kampen geopen is, as een van die eerste vier teologiese professore benoem. Postma sou die liefde vir die tale by sy leermeester oorneem en het hom deur sy lewe steeds verder daarin verdiep en bekwaam. As student vorder Postma baie goed en hy word in 1840 deur die Provinsiale Sinode van Friesland (skriftelik en mondeling) geëksamineer en tot die bediening toegelaat. Kort daarna word hy beroep en op 5 Julie 1840 in sy eerste gemeente te Minnertsga bevestig. Twaalf dae later, op 17 Julie, word hy ook in die huwelik bevestig met Marijke Bauke de Ruijter, sy eerste vrou. Sy was op daardie stadium nie lidmaat van die gemeente nie, en het in Augustus 1840, onder haar man se leiding, belydenis van geloof afgelê. Twee kinders is uit die huwelik gebore, Grietjie (26/07/41) en Laurika (27/06/43). In Februarie 1842 word Postman a die kombinasie-gemeente Middelstum-Bedum beroep. Hy aanvaar die beroep en word op 1 Mei 1842 daar bevestig. In Middelstum werk hy met groot vrug, maar in die gemeente van Bedum ondervind hy dwaalleer (verwerping van die kinderdoop) en teenstand. ‘n Groot hartseer tref postma in hierdie tyd toe sy vrou op 13 Julie 1843, twee weke na die geboorte van hulle tweede dogter, Laurika, sterf. Tien maande later, op 23 Mei 1844, word Postma in die huwelik bevestigg met sy tweede vrou, Janna Willemina Alberts Free, ‘n lidmaat van die Christelike Afgeskeie Kerk van Groningen. Twee kinders word uit die huwelik gebore, Pieter (02/03/46) en Geertruida (05/12/47). In Oktober 1844 ontvang Postma ‘n beroep na die gemeente Wildervank. Hy aanvaar die beroep en word in Desember 1844 daar bevestig. Sy bediening is geseënd en die gemeente groei. Die opleiding van verskillende persone As predikante word aan hom toevertrou. Postma se gawes as leier in die kerkverband tree ook in hierdie tyd op die voorgrond. Naas curator van die Teologiese Skool dien hy ook by twee geleendhede as voorsitter van die provinsiale sinode en in 1846 as voorsitter van die nasionale sinode. Hier speel Postma ‘n versoenende rol tussen twistende partye in die Christelike Afgeskeie Kerk. Terselfdertyd bly hy ook besig met selfstudie en hy bekwaam hom verder in tale soos Latyn, galdees, Siries en arabies. Ook in die gemeente wildervank bly die hartseer postma egter nie gespaar nie. Op 28 Januarie 1849 sterf sy tweede vrou in die jeugdige ouderdom van 23 jaar. hartseer met die dood van drie van sy kinders. Eers sterf sy oudste seun, Pieter (21/11/50), daarna Petrus (15/08/51) (wat slegs ‘n paar weke geleef het), en ten slotte sy oudste dogter Grietjie (03/12/53). In 1856 is Postma se moeder oorlede en op 30 Maart 1857 sterf ook sy derde vrou, Ida Sijpkens na ‘n langdurige ziekte. ‘n Paar maande later beleef Postma ook nog die verleendheid van ‘n liefdesteleurstelling. Hy sou vir die vierde keer in die huwelik tree, hierdie keer met Sientje Fransen van Zwolle. Postma het die ja-woord ontvang, maar op die dag van die troue in Oktober 1857, toe Postma haar (soos die gebruik destyds was) met ‘n koets by die huis wou gaan haal om die huwelik te laat bevestig, het die bruid van plan verander. Ondanks korrespondensie en bemiddeling het die huwelik nooit plaasgevind. Die bruid het ook vir die res van haar lewe ongetroud gebly. In dieselfde tyd (Oktober 1857) besluit ‘n sinodale kommissie van die Christelike Afgeskeie Kerk om ds Postma te benoem as afgevaardigde na die Transvaalse Republiek. Dit is begryplik dat die oorweging van hierdie benoeming vir Postma ‘n hevige strijd was. Sy besondere gesinsomstandighede as wewenaarpa van vyf kinders, sy roeping as geliefde predikant van die gemeente Zwolle en sy betrokkenheid in die kerkverband en by die teologiese skool het sekerlik hierin meegespeel. Uitendelik het hy tog tot die berusting en sekerheid gekom dat hy geroep is tot die bevordering van God se koninkryk in die Transvaalse Republiek. Hy dra sy besluit om hierdie roeping op te volg op 11 Februarie 1858 aan die sinodale kommissie en op 1 Maart aan die kerkraad van Zwolle oor. Op 21 Maart 1858 neem hy afskeid van die gemeente en vertrek op 22 April 1858 per seilskip na Suid-Afrika. Sy vyf kinders sou vir eers in Nederland by familie agterbly. Hulle word meer as twee jaar later, op 11 Julie 1860, in Durban as gesin herenig. Met sy koms na Suid-Afrika was die 40-jarige Postma dus, naas ‘n ervare predikant en kerkleier, ook ‘n wewenaar. Hy het toe reeds ses keer in sy lewe by die graf van ‘n gesinslid gestaan en moes is moeilike en onstuimige omstandighede as predikant en kerkleier optree. So is hy op ‘n besondere manier in sy persoonlike lewe en deur die kerklike lewe in Nederland gevorm en voorberei vir sy taak in Suid-Afrika. Postma se lewe weer deur andere beskryf... 1. Van “blikslagersknecht” tot professor in die teologie Dirk Postma, vyfde en jongste kind van Pieter Pieters Postma en Lolkje Arjens Boekhout, is gebore op 10 Januarie 1818 in Dokkum, Friesland. Sy ouers was eenvoudige arbeiders. Op vyfjarige leeftyd verloor hy sy vader, en vanaf sy vyftiende jaar verrig hy die nederige arbeid van ‘n “blikslagersknecht” tot ondersteuning van sy weduweemoeder. In 1858 vertrek hy as afgevaardigde van die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk na Suid-Afrika om sy hulp aan die Transvaalse kerk aan te bied. Hy volbring sy opdrag op voorwaardes soos hy dit met sy gewete kon versoen. Die hulp word geweier. Wanneer ‘n groep lidmate, wat baie jare lank ‘n stryd gevoer het teen dwaalleringe in die bestaande kerke in Suid-Afrika, Postma versoek om hulle sy hulp te bied, voldoen hy daaraan. Dit lei tot die stigting van die Gereformeerde Kerk te Rustenburg, 11 Februarie 1859. As predikant van Rustenburg bedien hy tot 1862 verskeie gemeentes in Transvaal, Oranje-Vrystaat en Kaapkolonie. In 1866 word hy predikant van Burgersdorp. Benewens bediening van die gemeente werk hy van 1869 tot 1876 as deeltydse dosent, van 1876 tot 1879 as waarnemende professor en van 1879 tot 1890 as voltydse professor aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk. Prof. Postma was vyfkeer getroud. Uit hierdie huwelike is 21 kinders gebore. Van hom het in druk verskyn ‘n dogmatiese studie: Mijne handleiding voor de Godgeleerdheid volgens de kern van Aegidius Francken (1875). In 1893 publiseer sy seun ds. D.Postma (jr.) ‘n aantal Leerredenen van sy vader. 2. ‘n Geseënde nagedagtenis Dit is 28 Desember 1890. Die tyding trek van huis tot huis, van dorp na dorp: Professor Dirk Postma het heengegaan. Reeds vroeg in sy lewe het hy ernstige moeilikheid met sy gesondheid ondervind. God het hom egter gespaar, hom geseën met ‘n sterk gestel en ontembare arbeidslus. By sy heengaan het hy op 13 dae na die hoë lewensjare van 73 bereik. Prof Postma se lewe en werk was onlosmaaklik ineengevleg met die wel en wee van die Teologiese Skool. Vir die gereformeerde kerkverband, en in besonder vir hierdie inrigting, was sy heengaan ‘n gevoelige verlies. Dit is nie te veel gesê nie as beweer word dat hy van die begin af die siel van die skool was. As stryder vir die gereformeerde waarheid het hy van die begin af besef dat die Gereformeerde Kerk sy eie opleiding moet behartig om draer van hierdie waarheid te bly. Wanneer ons hom as professor in gedagtenis bring, moet twee sake in die oog gehou word, te wete: a. Postma het self ‘n deeltydse en gebrekkige opleiding geniet en b. Hy moes die volle tyd van sy bediening as professor die hele terrein van die teologiese wetenskap dek. Hy moes deur selfstudie – en hy was inderdaad student – hom verder bekwaam, maar onder die omstandighede kon hy vanselfsprekend nooit ‘n diepgaande wetenskaplike kennis oor die volle linie van die teologiese wetenskap bekom nie. Hy het ook nooit in die minste die skyn probeer wek dat hy teoloog is in die wetenskaplike sin van die woord nie; inteendeel, hy was oor sy gebrekkige wetenskaplike vorming baie eerlik teenoor homself en teenoor die kerk en skool. Sy getuienis oor homself en sy motivering vir die bedanking van die benoeming tot voltydse professor lewer hiervan ‘n onweerlegbare bewys. Op aandrang van die Sinode het Postma hom egter gegee en sy volle gewig ingewerp vir die bevordering van die skool se belange. Hy was ‘n vurige pleitbesorger vir Christelike wetenskap. Vandaar sy ywer vir die oprigting van christelike skole, die oprigting van die teologiese skool in 1869, die uitbouing van hierdie inrigting sodat dit altyd meer diensbaar kon wees aan kerk en volk. Voortdurend het hy gepleit vir die ereplek van Hollands naas Engels en vir die deeglike onderrig van Vaderlandse Geskiedenis. Postma het met ywer vir die Teologiese Skool en in besonder ook vir die literariese departement ver en diep gesien. Sprekend is sy woorde voor die Sinode van 1873. Hy sien in die verskiet ‘n eie inrigting, ‘n normaalskool waaraan onderwysers kan studeer, maar verder ‘n inrigting wat vir universiteitsgrade kan oplei, om daarna vir doktor of advokaat te gaan studeer, en die wat wens om predikant te word, kan aan die inrigting hulle hele opleiding geniet met ‘n universiteitsgraad. So het hy, die versiende idealis, vooruitgegryp na “eene eigene inrichting voor hooger onderwijs”. Hy het die P.U. vir C.H.O. in die volgende eeu sien kom. Daarvoor het hy die eerste stene gelê en daarop begin bou. Die maandblad Woord en Daad van November 1955 het hom tereg vereer as die “grondlegger van ‘n Christelike Universiteit”. Uit die stigting van 1869 waarop die reorganisasie van 1876 gegrond was, het in die volgende eeu Postma se “eigene inrichting voor hooger onderwijs” gegroei. Hoewel geen deeglike opgeleide tewenskaplike teoloog nie het hy hom tog bekwaam dat hy met seën bedienaars van die Woord kon oplei. Daar het manne, van wie die name reeds vermeld is, onder sy leiding huille studie voltooi en ‘n leidende rol in die uitbouing van kerk en volk gespeel. Hy het ‘n besondere liefde vir die ou tale gehad. Dit is by hom gekweek deur sy leermeester,ds. T.F.de Haan, self ‘n deeglike kenner van Hebreeus en later een van die eerste professore aan die Teologiese Skool te Kampen. Opmerklik is dan ook die belangrike plek wat aan die Teologiese Skool toegeken is aan die studie van Grieks, Hebreeus en Latyn. ‘n Omvangryke deel van die kurses is hiermee gevul. Dit is opmerklik dat in die eerste paar dekades van die skool se bestaan die literariese opleiding oorheers is deur die seuns van prof. Postma, Petrus, Marthinus en Stephanus. Hulle was hoogs intelligente persone en het elkeen ‘n universiteitsgraad gehad, Marthinus self ‘n M.A.-graad. Ook hierin was prof. Postma versiende. Sy twee seuntjies Petrus en Marthinus het hy van hulle sewende jaar reeds lesse in Hebreeus, Latyn en Grieks gegee. Vir verdere studie het hy Petrus en Marthinus na Gill-kollege gestuur om te gradueer. Sommige binne die Gereformeerde kerkverband het hom dit kwalik geneem en hom verwyt dat hy sy seuns na dié Engelse inrigting gestuur het. Postma het daarop geantwoord dat hy dit doen om in die behoeftes van kerk en skool te voorsien. Postma het reg en ver gesien. Sy seuns het geseënde werk gedoen en die eerste stene van die Literariese Departement, toe niemand anders binne in die Gereformeerde Kerk akademies daarvoor toegerus was nie, heg en stewig gelê. Prof. Postma het homself, in sy verband tot die skool, altyd as ‘n noodhulp gesien. God het hom egter as ‘n geseënde werktuig gebruik. In die geloof het hy ‘n swaar vrag gedra, in die geloof het hy vooruit gebeur om die wetenskaplike peil aan die skool te verhoog teen veel teëkanting en vooroordeel in. As gelowige het hy die skool se taak helder gesien in sy verhouding tot kerk en volk en het hy as roepingsbewuste, nederige arbeider daardie taak help volbring. Sy tydgenoot, ds. M.P.A.Coetzee, het tereg by sy heengaan gesê dat die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika “het grote monument is dat altijd de herinnering aan hem levendig zal houden”. ‘n Seder het geval en ‘n leë plek gelaat in die skool, waaraan sy lewe en werk so innig en so geseënd verbonde was. Nog weer 'n ander terugblik op Dirk Postma Dirk Postma is gebore op 10 Januarie 1818 in die stad Dokkum, geleë in die noorde van die Provinsie Friesland. Hy was die jongste kind van Pieter Pieters Postma en lolke Boekhout. Sy ouers was eenvoudigge arbeidersmense. Prag en praal was daar nie, maar stille eenvoud. Hoewel sy ouers arm was, was hulle tog ryk aan die genade van die Here. Van sy skooljare is nie veel bekend nie. Hy het vertel dat menigmaal “trane sy oë vervul het as hy ander seuns na die skool sien gaan het”. Sy vader het hy verloor toe hy maar 5 jaar oud was. Die opvoeding en versorging het gerus op die skouers van sy “dierbare moeder”. Toe was veral die klein Dirk die problem. Op vyftienjarige leeftyd was hy egter ‘n sorg vir sy moeder. Die begeerte het ontstaan om predikant te word. Daartoe moes middele gevind word. By sy harde werk om hom en sy moeder in die nodige te voorsien, het hy hom besigg gehou met die bestudering van die Bybel, werke in godgeleerdheid en Kerkgeskiedenis. Die eerste “amp” wat Dirk Postma in die kerk beklee het, was die van oefenaar in Wanswerd. Dit is hom toegelaat om die gemeente te stig “met een oefening door eigen studie ontworpen of door het voorlezen van eene geschikte predikatie”. By hom het die ideaal bly voortleef om predikant te word. Hy het met sy studie volhard. Op 10 Junie 1840 word Postma as kandidaat in die Teologiese geëksamineer in die volgende vakke nl. Hebreeus, Uitlegkunde, Leerstellige Waarhede, Bybelse en Kerklike Geskiedenis. Op 19 Junie 1840 word hy deur die Provinsiale Sinode van Friesland toegelaat tot die bediening. Hy word op 5 Julie 1840 bevestig as predikant van Minnertsga, waar hy weer op 24 April 1842 afskeid geneem het. Ds. Dirk Postma het die kombinasie Middelstrum en Bedum bedien vanaf 1842 tot 1844, toe hy die beroep na Wildervank aangeneem het. In Wildervank het hy geseënde arbeid verrig tot in 1849 toe hy na Swolle vertrek het. In Swolle het hy ook baie gedoen in belang van die kerkverband. Reeds daar het hy hom beywer vir die oprigting van ‘n Christelike Skool, en het hy die stryd aangeknoop teen die valse leer. Dirk Postma het ook beproewinge geken. In Wildervank het hy sy tweede vrou aan die dood moes afgee. Op 11 Februarie 1850 tree hy vir die derde keer in die huwelik. In die vyftigerjare het hy drie kinders aan die dood afgegee en ook sy moeder in 1856 en in 1857 sy derde vrou. Hy self skryf: “Welk een groot verlies – Myn God is mijne sterkte”. In Jan. 1852 het ds.Postma ‘n beroep ontvang na Amerika. Dit bewys die agting en vertroue wat hy geniet het. Op Sondag 21 Maart 1858 neem ds. Postma afskeid van Swolle om na Suid-Afrika te vertrek. Hy word afgevaardig deur die Chr. Afg. Geref. kerk “om de belangen van Gods Koninkrijk te bevorderen” en “om eene deur des Evangelies tot de Heidenen onder en rondom hem te openen, indien het God behaagt onze dienst aldaar te zegenen”. Op 8 Julie 1858 kom ds. Postma in Simonstad aan. In Kaapstad vertoef hy by dr. S.J.Hofmeyer. Op 1 Augustus vertrek hy na Durban, waar hy op 20 Aug. aan wal stap. Op 1 September vertrek hy per ossewa na Pietermaritzburg waar hy tuisgaan by ds. Faure. Op 11 Okt.ontmoet twee broeders uit Rustenburg hom Ph. Snyman en D.Kruger. Op Sondag 7 November 1858 hou hy diens op Buffeldoorns, by ouderling P.Schutte. In Desember hou hy saam met ds. Van der Hoff dienste in Potchefstroom en Rustenburg. Op 3 Januarie 1859 word ‘n voorlopige byeenkoms op Rustenburg gehou. Op 10 Januarie vind ‘n Algemene Kerkvergadering op Pretoria plaas. Elke keer stel ds. Postma sy standpunte t.o.v. die gesange, leerverskille, ens. Op 11 Feb. 1859 word die Gereformeerde Kerk in Rustenburg deur ds.Dirk Postma gestig “als eene Vrye Gereformeerde Kerk overeenkomstig de leer, tucht en dienst der Vaderen, zoals die zich te Dordrecht in de jaren 1618 en 1619 hebben geopenbaard in hunne Nationale Synode”. Die teks uit Gods Woord by die prediking was Jes. 62:2. Ds. Postma verklaar plegtig dat hy die bediening in Naam en krag van die Here aanvaar. Van nou af is hy predikant van Rustenburg. Onder sy leiding is in Transvaal in dieselfde jaar gestig die gemeentes Pretoria, Lydenburg, Potchefstroom, Waterbergg en Pietersburg. In die Oranje Vrystaat: Reddersburg en in Kaapland in 1860 Burgersdorp, Middelburg en Colesberg. Van 1859 tot 1866 het hy die gemeente Rustenburg bedien, maar ook met konsulentsbediening van ander gemeentes in Transvaal (spesifiek ook Pretoria- PJV) , O.V.S. en Kaapland. ‘n Geweldige taak het op sy skouers gerus, maar die Here het in sy genade krag en wysheid en moed geskenk. Hy het ook die werk van opleiding van aanstaande predikante onderneem. Vanaf 1866 tot 1879 is hy predikant van Burgersdorp. Sedert 1869 toe die Teologiese Skool gestig is, het hy hulp gekry, toe Burgersdorp ‘n tweede leraar in die persoon van ds. J.Lion Cachet ontvang het, wat ook deeltyds met die opleiding van die student aan die skool gehelp het. Van toe was dit behalwe die gemeentelike en konsulentswerk ook die werk van die Teologiese Skool. Op 22 Mei 1879 is ds. Dirk Postma bevestig as voltydse prof. aan die Teologiese skool, totdat die lewensaand van “hierdie dienskneg van Jesus Christus met sy ysere wil, ontembare arbeidslus en sterke gestel” op Sondag 28 Desember 1890 vir hom aangebreek het. Net toe die eerste gelui vir die middagdiens na die nagmaalsmôre weerklink het hy sy laaste snik gegee. Op Dinsdag 30 Desember 1890 is hy begrawe deur ds. M.P.A.Coetzee met teks 2 Kon.2: 12 “My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters”.Die sprekers by die graf was ds. W.J.Snyman (Venterstad), ds. Cormack (N.G. Kerk, Burgerdorp), student G.H.J.Kruger (Praetor van Teologiese student) en ds. J.Lion Cachet. . |
Eers predikant van Hannover en later staatspresident TF Burgers (1872-1877) met wie NJR Swart baie noue bande mee gehad het.
Foto van NJR Swart by kanon is in 1872 geneem. Swart staan net links van TF Burgers (met presidensiele drag) waar hierdie kanon pas aangekoop was en hier sy eerste skoot afgevuur het as deel van die regering se staatsartillerie
NJR Swart voor die ou Volksraadgebou in 1875 toe Burgers na Europa vertrek het. V.r.n.l staan JJ Meintjes, PJ Joubert (waarnemende staatspresident) en dan NJR Swart met wit pluiskuilhoed. Hy was toe goewermentssekretaris.
Voor links is NJR Swart (1876) toe reeds staatssekretaris saam met pres. TF Burgers met 'n ander groep amptenare. Dr. EJP Jorrisen is ook langs Burgers en aan sy linkerkant staatsprokureur JJ Meintjes.
Graf van NJR Swart in Mosselbaai. By hierdie foto is die opmerking gemaak na aanleiding van die Engelse kopstuk dat hy of sy nageslag verengels het.
|
Ds. NJR Swart (1866-1872)Eerste lewenslig
Nicolaas Jacob Reinier Swart is op die 3de Junie 1830 in Amsterdam uit ’n welgestelde familie in Nederland gebore. Hy was die oudste seun van Jacob Swart en Anna Maria Scherius. Jacob was ’n hidrograaf[1] wat ook ’n besondere belangstelling in die seevaart getoon het. Hierdie vader wou graag sy seun in sy voetspore laat volg. Daarom het hy vir die jonge Nicolaas reeds vroeg die beste van onderwys-geleenthede gegee. Nicolaas het op ’n vroeë leeftyd reeds verskeie Europese tale kon spreek en was toe reeds in staat om Grieks en Latyn te lees. Verbintenisse Hierdie welgestelde familie waaruit Nicolaas gebore en opgegroei het, was lidmate van die Nederlandse Hervormde kerk. Al was die kerkverband vrysinnig het Jacob Swart die belange van die Voortrekkers op die hart gedra. Pa en ma het vanuit Nederland hulle uiterste bes gedoen om veral in die Voortrekkers se geestelike behoeftes te voorsien. Pa Jacob het vir sy seun altyd die beste geleenthede wou gee en het by Nicolaas aangedring om hom verder in Australië[2] te bekwaam. Ongehoorsame “kind”? Dit gebeur in 1849 dat die skip waarmee hierdie reis onderneem is by Kaapstad aan wal moes gaan om vandaar die reis voort te sit. In die Kaap het die jonge Nicolaas, 19 jaar oud, eenvoudig nie verder wou saamreis toe die skip weer moes vertrek nie. Hy het besluit om sy voete op Afrika-bodem vas te maak. Met behulp van vriende van sy ouers het hy spoedig na Graaf- Reinet kon vertrek om daar in ’n winkel te gaan werk. Sy vader het hierdie verwikkelinge goedgekeur op die voorwaarde dat hy na Nederland moes terugkeer as hy nie binne ’n jaar ’n goeie betrekking kry nie. Saam met die winkel werk het hy spoedig die aanstelling as boekhouer in die firma Mosenthal en Kie verwerf. Hierdie spoedige aanstellings en bevorderings was gedeeltelik deur ds. Andrew Murray se positiewe aanbevelings moontlik gemaak. Ook het dr. Maasdorp hom heel positief in hierdie aanstellings bevorder. Die winkel-eienaars het hulle egter met Nicolaas Swart se opvoeding misgis want het hulle op ’n dag van hom verwag dat hy as deel van sy werk ook in ’n Kleurling kantien moet gaan uithelp. Hy het dit botweg geweier en toe ook sommer sy bedanking daar ingedien! Die onderwyser Hierdie verleentheid het spoedig weer ’n geleentheid geword want het ds. Murray en dr. Maasdorp toe ewe sterk by Nicolaas aangedring dat hy hom in die onderwys moet begewe. Dit het vir hom ’n heeltemal nuwe weg geopen toe hy dan ook spoedig in 1852 as “skoolmeester” op ’n kolonie plaas van Kootjie Burgers[3] kon begin skoolhou. Swart was toe nog ongetroud. Sy verbintenis met die Burgers-familie laat hom spoedig van kolonie-onderwyser na dorps onderwyser in Hannover vorder . In die Hannover-jare het Swart al nouer kontak met ds. TF Burgers toe die plaaslike predikant van die NG kerk gehad. Swart het aldaar as voorleser in die kerk begin optree, wat saam met sy beroep as onderwyser hom met invloedrykes in kontak gebring het. Dit was reeds in hierdie tyd dat NJR Swart se ouers in Nederland ook vir ds. TF Burgers in Amsterdam toe hy op besoek daar was leer ken het. Hierdie vroeëre verbintenis met Burgers sou in die latere lewe van Swart ’n al hoe belangriker rol begin speel. In die distrik Hannover maar nog meer in die latere Transvaal! Getroud en ses kinders In 1856 het hy met Elizabeth Maryna Naude in die huwelik getree. Sy was die oudste dogter van ’n veldkornet SD Naude van Aasvogelkrans. Daar is ses kinders uit hierdie huwelik gebore. Transvaalse ruimtes- ’n eie plaas! In 1862 is Swart na Transvaal steeds as onderwyser. Intussen het Swart se ouers in Nederland met die president van die ZAR ’n formidabele ooreenkoms bereik. Pres. MW Pretorius wat amptelik in Nederland op besoek was kom in kontak met Jacob Swart die vader van NJR Swart en word daar deur hierdie vader £1000 aan die president oorhandig. Dit geskied op voorwaarde dat die president verplig is om vir NJR Swart terug in die Suid-Afrikaanse republiek ’n plaas moet koop. MW Pretorius het die ooreenkoms gestand gedoen en die plaas Kalkheuvel (distrik Pretoria) naby Hartbeespoort aan die Krokodilrivier het NJR Swart se eiendom geword. Eers het hy met skape daar begin boer, maar toe dit nie ’n sukses kon wees nie, het hy na bokboerdery oorgeslaan, spesifiek Angora-bokke, of sybokke soos dit ook genoem word. HY het spesiaal 300 skape na Graaf-Reinet laat gaan juis om uit daardie sybok-wêreld met hierdie besondere bokke naby Pretoria terug te keer en met sybokke hier te boer! Hierdie ruil-transaksie het in 1862 in Graaf-Reinet plaasgevind waar Swart ook met 12 osse, 10 koeie en 2 perde sy eie groot-trek moes onderneem. Sy vrou en op daardie stadium drie kindertjies het hierdie hele pad na die Karoo en terug in ’n historiese tentwa saamgetrek! Die boerdery tref hom nie goed nie, want sopas terug op sy plaas vreet daardie bokke gifplante wat uit ’n afgelope grasbrand uitgeloop het en het daar nie ’n bok dit oorleef nie. Intussen het sy buurman onder sy beeste ’n dodelike longsiekte opgetel en meer as die helfte van Swart se koeie het ook aangesteek en gevrek. Dit het tot gevolg dat al het sy ouers dit sekerlik net goed bedoel en dat selfs die president die grond moes koop het Swart spoedig moes terugval na wat hy voor sy plaas was nl. onderwyser. Dit het egter nie dadelik gebeur nie. Toe Swart aanvanklik na Pretoria teruggekeer het, het hy nie werk gekry nie. Swart en Paul Kruger In sy werkloosheid het Swart na Potchefstroom gegaan en daar het hy en Paul Kruger, op daardie stadium Kommandant-generaal van die ZAR, mekaar ontmoet. Paul Kruger versoek Swart om op sy, Kruger se plaas Waterkloof, net buite Rustenburg te begin skoolhou Die Gereformeerde kerk in Rustenburg, gestig in 1859, toe reeds langer as drie jaar aan die gang word ook die Swart-gesin se nuwe geestelike tuiste waar hulle dan ook toe daar aangesluit het. Gou het Swart ook weer voorleser in die kerk geword, soos op Hannover, wel nou om vir Dirk Postma (snr) die eerste Gereformeerde predikant in SA by te staan. As onderwyser het die waenhuis-skooltjie op Kruger se plaas spoedig te klein geword omdat die kinders eenvoudig net in getalle toegeneem het. Hier het die kerkraad in Rustenburg op daardie stadium in afwesigheid van ds. Postma ingegryp en het hulle toe die kerkgebou in Rustenburg ook as ’n skool aangebied. Dit het met die skool so goed gegaan dat hulle genoodsaak was om nog twee assistente saam met NJR Swart aan te stel om die onderwys te behartig. Hierdie twee was in die persone van Jan Lion Cachet[4] en ’n ene Wagenaar. In dieselfde tyd het die Gereformeerde gemeente in Rustenburg waar Swart en gesin reeds getroue lidmate was hom as skriba en voorleser gebruik waar hy daar in die onderwys gestaan het. Swart word predikant Ds. Dirk Postma het toe vir Swart oorgehaal dat hy toe begin het om onder leiding van Postma in die teologie te studeer. In 1864 het hy aansoek gedoen om predikant te word. Swart het tydens hierdie vergadering as ’n openhartige figuur na vore getree en gemeld dat hy aan homself nie as ’n goeie leier dink nie en dat hy behoefte het dat daar aan hom goeie leiding gegee moet word. Hy het ook vertel hoe sy oorkom na die Gerf. kerk vir sy vader nog lid van die Nederlands Hervormde kerk ’n hartseer besluit was maar dat hy met oorgawe hom aan die studies sou wy. Verder het Swart te kenne gegee hoe hy as immigrant in Graaff-Reinet tot bekering gekom het, maar ook hoe hy in Hannover weer “ligsinnig begin leef het, totdat hy in 1862 na Transvaal gekom het”. Die aansoek van Swart om finaal as predikant toegelaat te word, het spoedig op die sinode van 1866 wat in Reddersburg plaasgevind het gedien. Hy was daar as een van vier kandidate[5]. Hierdie sinode het heel gunstig oor Swart geoordeel en is hy tydens hierdie kerklike vergadering tot die bediening toegelaat. Swart het ook die heel eerste kandidaat in die teologie geword wat in Suid-Afrika in die Gereformeerde kerke gestudeer en as predikant toegelaat was. Swart was toe reeds 34 jaar oud gewees en al was daar ’n Sinodebesluit dat studente ouer as 30 jaar nie nodig het om die antieke tale te leer voordat hulle die bediening ingaan nie, het Swart nogtans Grieks, Hebreeus en Latyn as vakke in sy voorbereiding gehad en daarin geslaag. Eerste predikant in Pretoria Na toelating het Swart spoedig ’n beroep ontvang en het hy die beroep na Pretoria aanvaar waar hy dan ook op 15 Julie 1866 (of Oktober 1866?) deur sy leermeester ds. Dirk Postma (snr) in die amp bevestig is[6]. Dit was egter kort na die bevestiging wat ds. Dirk Postma ook die ZAR verlaat het om hom in Burgersdorp te gaan vestig. Dieselfde sinode wat Swart se toelating tot die bediening goedgekeur het, het ook besluit dat Postma na Burgersdorp moes gaan vir die begin van die voltydse opleiding van predikante. Postma se dadelike vertrek het Swart as die enigste Gereformeerde predikant in die hele ZAR agtergelaat. Oor die hele gebied wat ingesluit het Rustenburg, Potchefstroom, Waterberg, Nazareth (die huidige Middelburg) en Zandrivier (distrik Winburg in die OVS) was deel van Swart se bediening. Op elk van hierdie plekke het hy elke drie maande die Woord en die sakramente moes bedien. ’n Goeie begin Reeds in die beroepsbrief was NJR Swart ingelig dat die finansies van die gemeente in Pretoria wat hom beroep het onder baie druk staan maar is daar aangebied dat verskeie stukke gronde wat nie vir kerklike doeleindes gebruik word nie, spoedig verkoop sal kan word ter verligting van die finansiële nood waarin die gemeente verkeer het. Swart se traktement was op £250 per jaar vasgestel, maar moes hy voorlopig met £225 per jaar tevrede wees. Swart het in hierdie omstandighede ’n goeie begin in sy bediening gemaak en verskeie notules is die stille getuienis van hoe Swart en die kerkraad en ook hy in die gemeente werklik die vertroue van kerkraad en gemeente weggedra het. Selfs met die bou van ’n verbeterde kerkgebou is daar kort na Swart se bevestiging erns mee gemaak. Kollektes is daarvoor ingesamel en daar is spoedig van die gronde verkoop met duidelik gestipuleerde voorwaardes daarin vervat. Paul Kruger het in dieselfde tyd aangebied om sou die kerk verbeter word dadelik 125000 stene vir die doel te laat bak. Swart het in hierdie beginjare in meer as net in Pretoria waardevolle dienste gelewer, ook in die bou van nog meer kerkgeboue. Swart het ook op 12 Januarie 1867 die ingebruikneming van die eerste volwaardige kerkgebou in Potchefstroom waargeneem. Toe Swart op 12 Junie 1869 die kerkraad in Pretoria versoek om met spesiale verlof na Europa te gaan is dit hom heel positief toegestem en het die kerkraad dit aangebied met behoud van sy traktement en om terselfdertyd ’n bedrag van £95 wat nog uitstaande was ook aan hom te gee. Swart wou egter die aanbieding van traktement in die tyd van sy verlof nie aanvaar nie! Hierdie getuienisse spreek in alle geval van gesindhede wat in hierdie eerste jare van Swart se bediening in Pretoria op ’n baie gesonde wyse kon geskied. Swart het oor sy reis na Europa met sy terugkoms positiewe verslag kon lewer en het met verskeie predikante van die Christelik Afgeskeie Gereformeerde kerk in Nederland kontak gehad en veral prof. H de Kock het ook op Swart ’n heel positiewe indruk gelaat. Swart in die kerkverband (1866-1871) Soos met die gemeentes wat Swart in hierdie beginjare bedien het so het hy aanvanklik in die breë kerkverband baie vertroue weggedra. Al het Swart hierdie jare vanaf 1866 beskrywe as moeilike jare, soos wat hy hom in 1867 ook in die Algemene vergadering van Transvaal uitgedruk het dat hy hom uitspreek “teen die geesteloozen en dooden toestand, die berusten in uiterlyke vormen en uiterlike regtzinnigheid, die verwaarlosing van die eredienste, huisgodsdiens en onderwys van die kinders...Swart het gevoel dat die lewenswandel in die algemeen groot rede tot bekommernis is. [1]Hidrografie is ’n wetenskap wat die waters van die aardoppervlak beskryf en in kaart bring. [2]Sekere bronne verwys na Indië. [3]Kootjie of dan nou Schalk Burgers was ’n oom van pres.TF Burgers. TF Burgers wat later ’n bepalende invloed in Nicolaas Swart se lewe sou uitoefen. [4]Jan Lion Cachet latere skoonseun van Dirk Postma het later ’n nog prominenter rol in die geskiedenis van die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika gespeel. Vgl. proefskrif van dr. Jan Louis Ras wat handel oor Jan Lion Cachet as kerkman (1865-1912) [5]Die ander drie kandidate wat op dieselfde dag geëksamineer was, was studente van J.Beyer ten wete SD Venter, AAJ de Clerk Coetzee en JSL Venter. Lg, was ook latere opvolger van Swart in Gerf. kerk Pretoria. Hierdie drie wat onder Beyer gestudeer het, was egter net een nl. SD Venter saam met Swart dadelik toegelaat. [6]Daar is teenstrydigheid in die bronne rondom datum van bevestiging. Dr. Jan Visser (1989: Tug oor Ampsdraers) en GCP v/d Vyver (1958: Prof. Dirk Postma 1818- 1890) meld die bevestiging as op 15 Julie 1866, maar volgens H.Turkstra (1988: Gereformeerde gemeente Pretoria 1859-1930) was die beroepsbrief in Pretoria op 23 April 1865 tydens die drie-maandelikse gemeentevergadering knielend hier in Pretoria in gebed voorgelees en het Postma wel op 15 Julie 1866 gemeld dat Swart as predikant van hierdie gemeente beroep is. Volgens Turkstra het die bevestiging eers die eerste Sondag van Oktober in 1866 plaasgevind. In dieselfde tyd het die lede van die Uitvoerende Raad en die Landdros van Pretoria kennis gekry van die bevestiging wat in Oktober 1866 deur Postma alhier afgehandel is. |
JSL Venter as deel van die eerste studente by die opening van die Teologiese Skool op 29 Nov 1869. Hy staan agter tweede van links. Voor v.l.n.r. di. Dirk Postma en J. Lion Cachet.
Agter M.Pelser, JSL Venter, LJ du Plessis, MPA Coetsee (jnr), WJ Snyman. |
Ds. JSL Venter (1872-1880)Van Jan Sarel Louis Venter is daar van sy eerste lewensjare baie min bekend. Hy is gebore op 3 Junie 1832 waar hy eers as boer op die plaas Mosterdhoek distrik Reddersburg gevestig was. Daar het hy ook in die Gereformeerde kerk Reddersburg as diaken gedien. Ds. J Beyer het eerste die aandag op Venter gevestig waarin Beyer in 'n brief aan ds. Dirk Postma op 21 Junie 1864 melding maak van die studente wat onder hom (Beyer) hulle vir predikantstudie aangemeld het. In 1866 is JSL Venter saam met SD Venter en A Coetsee deel van die studente wat tydens die sinode ondervra sou word om tot die bediening toegelaat te word. Venter is nie toegelaat nie[1]. Venter het egter volgehou om onder Beyer sy studies voort te sit
[1] Van hierdie eerste studente wat onder Beyer gestudeer het was net SD Venter toegelaat. |
Ds. P. Postma en eggenote Maria Aletta Johanna Coetsee (nee Venter). Hier was sy 17 jaar oud. In 1908 is hy weer getroud
Ds. Petrus Postma en sy eggenote Kandy waar hy as banneling op Ceylon (Sri Lanka) aangehou was.
In 1908 is ds. P. Postma weer getroud met Aafke O Postma.
|
Ds. P. Postma (1882-1904)Petrus Postma is op 21 Januarie 1854 in Zwolle Nederland gebore as die derde kind van ds. Dirk Postma en Ida Sypkens[1]. Hy was een van die vyf oorlewende kinders wat op 11 Julie 1860 in Durban aangekom het nadat hulle vader besef het dat hy nie weer (gou!) na Nederland sal kan terugkeer nie. Op daardie stadium het die twee seuns van Dirk Postma nl. Petrus (9 jaar) en Martinus (7 jaar) hulle vader op talle van sy reise in die bediening van die verskillende distrikte vergesel. Hulle vader ook hierdie tyd nuttig op die reispad gebruik om sy kinders Latyn te leer. Meester J. de Ridder die hoofonderwyser op Burgersdorp het ook tot hulle aanvanklike skoolopleiding bygedra. Dit alles begin in 1869 toe hulle vader hom op Burgersdorp sou gaan vestig. Beide die seuns het toe hulle verdere opleiding van dr. J. Brebner aan die Albert Academy ontvang[2]. In dieselfde jaar is Brebner as rektor by die pas-gestigte Gill-kollege in Somerset-Oos aangewys en het pa Dirk sy kinders ook daarheen vir hulle verdere skoolopleiding gestuur[3]. In 1876 het Petrus Postma die BA graad aan Gillkollege Somerset-Oos behaal. Daarna begin hy as die eerste voltydse professor in die Literariese Departement van die Teologiese Skool in Burgersdorp. Hy het intussen met sy teologiese studies voortgegaan en het in 1879 die proponentseksamen voltooi[4].
In 1880 het hy 'n beroep na Burgersdorp aanvaar waar hy as predikant gedien het tot hy na Pretoria in 1882 sou vertrek. Sy beroep na Pretoria was eintlik glad nie eenvoudig nie. In werklikheid was hy drie keer na hierdie gemeente beroep. Die eerste beroep was al op 6 Oktober 1881 kort na JSL Venter se hartseer en oneervolle vertrek uit hierdie gemeente. By hierdie eerste beroep is die uitslag so bepaal dat hulle sy naam gestel het en as daar enigeen teen die beroep was dan moes hy bly staan. Die hele gemeente het bly sit en het Paul Kruger toe reeds in hierdie beroeping sterk na vore getree dat die versorging en vrye inwoning van die predikant gewaarborg moes word. Daar was werklik in die gemeente ‘n groot verwagting en uitsien dat Postma die beroep sou aanvaar. Soveel so, mev. Gezina Kruger het in hierdie tyd die kerkgebou en pastorie eintlik op eie houtjie skoongemaak en sover moontlik reggemaak. Die rekening wat die kerkraad van haar kostes moes verhaal was ‘n groot som in daardie tyd. Beide Paul en Gezina Kruger was vir hulle ywer in besonder in die gemeente bedank. Baie groot was almal se teleurstelling in die gemeente van Pretoria toe hulle op 20 Januarie 1882 verneem dat Petrus Postma nie die beroep aangeneem het nie. Hulle beroep hom toe vir ‘n tweede keer en weer het Postma beswaar teen die beroep toe hy verneem dat daar geen amptelike stemming in die gemeente was nie. Op 8 April 1882 word daar vir die derde keer amptelik vanuit die gemeente ‘n beroep op hom uitgebring en dit het hom laat besluit dat hy na hierdie gemeente moet kom. Op 22 Julie 1882 sou hy hier bevestig word. Dit is gedoen deur ds. JL Maury, predikant van Potchefstroom, wat sedert die bedanking van JSL Venter as konsulent van die gemeente, dikwels onder baie moeilike omstandighede moes instaan. Die 22 jaar wat hy as predikant in Pretoria sou arbei was in verskeie opsigte besondere jare, wat veral ook gekenmerk was deur die besondere verhouding wat daar tussen hom en pres. Paul Kruger bestaan het. Hy was werklik vir die president 'n vriend en persoonlike raadgewer. Om al die harde werk en hoogtepunte in die tyd van Petrus Postma in kort op te som is ‘n omvangryke taak. Moontlik kan ons net meld hoe hard daar gewerk is, met skerp vermaninge van Petrus Postma en Paul Kruger dat lidmate hulle finansiele offers na die huis van die Here moet bring. Beide die vorige twee predikante (Swart en Venter) was juis in baie opsigte deur hulle finansiele tekortkominge en nie goeie versorging van die gemeente in groot mate gedwing tot hulle vertrek wat nie by een van hulle ten volle eervol was nie. Hierdie leemte is met groot sorg in die gemeente in die tyd van Postma aangespreek. Die wye gebied wat bedien moes word (Middelburg, Lydenburg, Heidelberg (Transvaal) het ook besondere sorg vereis sonder dat hy wou toelaat dat enigiets in Pretoria agterwee mag bly. Dit was die tyd wat daar ten volle met groot sorg aandag gegee is aan goed beplande leesdiensroosters en het die kerklike wiele moes rol al was die predikant nie hier nie. Die mense wat op die Dorslandtrek wou gaan is ook in besonder deur Postma bearbei en het hy hard gepoog om hulle van die plan te laat afsien al was die omstandighede hier plaaslik baie moeilik. Dit was ook in die tyd van Postma gou duidelik dat die kerkgebou (kruiskerk) vergroot moes word. ‘n Taak wat ook met groot sorg en goed beplande insette o.a. van G. Pierneef as boumeester en H. Dijksterhuis as argitek uitgevoer was. Op 16 Oktober 1885 is hierdie nuwe vergrote kruiskerk in gebruik geneem. [1] Die huwelik met Ida Sypkens was reeds Dirk Postma se derde huwelik waar sy eerste twee eggenotes op vroee ouderdomme oorlede is. Ida Sypkens was afkomstig van Meeden in die provinsie Groningen in Nederland. [2] Brebner was afkomstig van Abderdeen Skotland en was n klassikus, opgeleide predikant en later ook grondlegger van die onderwysstelsel in die Oranje Vrystaat. [3] Hierdie optrede van Postma om sy seuns vir hulle literariese opleiding weg van Burgersdorp te stuur en dit nogal na Somerset-Oos was teen Postma op die sinode van 1869 gehou. [4] Toe Dirk Postma in 1875 oorweeg het om hierdie twee oudste seuns na Europa vir hulle teologiese opleiding te stuur was hy veral deur ds. MPA Coetsee (jnr) sterk hieroor vermaan omdat Coetsee hierin ‘n verkleinering van die opleiding wat in Burgersdorp gebied is aangevoel het. |
Ds. M. Postma en eggenote Elizabeth Wilhelmina Jossina Spiller. (haar vader was van Engelse afkoms.) Uit hierdie huwelik is 14 kinders gebore, onder andere die latere bekende Ferdinand Postma. Elizabeth is op 12 Augustus 1907 oorlede. Januarie 1909 het M.Postma weer in die huwelik getree met die weduwee van wyle CJH Vorster.
|
Ds. M. Postma (1904-1906)Marthinus Postma is gebore op 14 Julie 1855 te Zwolle as vierde kind van ds. D.Pstma en Ida Sypkens. Sy skoolopleiding ontvang hy van sy vader, van N.J.R.Swart, J.Lion Cachet en later in Burgersdorp aan die publieke skool.
Wanneer sy vader lang reise onderneem vir bediening van gemeentes, het hy en sy broer Petrus saamgereis met die oog op hulle onderrig. In 1874 behaal hy die B.A.graad aan Gill-kollege, Somerset-Oos. Vanaf 1875 is hy hoof van die publieke skool op Aliwal-Noord. Begin 1880 volg hy sy broer op as tweede voltydse professor in die Literariese Departement van die Teologiese Skool. In 1885 behaal hy ‘n M.A.graad in die Klassieke Tale met lof. Begin 1888 slaag hy in die proponentseksamen, en einde 1899 aanvaar hy ‘n beroep na die gemeente Middelburg, K.P. Die Sinode van 1891 benoem hom as professor theologicus aan die Teologiese Skool te Burgersdorp. Hy aanvaar dit nie. Hy bedien agtereenvolgens die volgende gemeentes: Middelburg, K.P. (1890-1897), Fordsburg (1897-1904), Pretoria (1904-1906), Waterberg (1906-1908), Fordsburg (1908-1926). Vanaf Februarie 1913 tot Augustus 1914 het hy in die Literariese Departement waargeneem in die plek van prof. F.Postma, wat met studieverlof afwesig was. Op 17 Julie 1876 is hy getroud met Elizabeth Wilhelmina Jossina Spiller. Uit die huwelik is veertien kinders gebore, onder wie ds. Dirk Postma (jnr) en prof. Ferdinand Postma. Sy eerste eggenote ontval hom deur die dood op 12 Augustus 1907. In Januarie 1909 tree hy weer in die huwelik met die weduwee van wyle ds. C.J.H.Vorster van Humpata. Op 26 Julie 1926 is hy oorlede. |
Ds. SO Los (1908-1914)Sietse Oene Los is gebore op 12 Oktober 1871 te Nieuwer Amstel, Noord-Holland, Nederland. Sy vader, Oene Los, was predikant in die Gereformeerde Kerk Nederland.
Nadat hy sy Kandidaatseksamen aan die Teologiese Skool in Kampen afgelê het, het hy as predikant agtereenvolgens gedien in die gemeentes: Zalk (1895-1901), Hilversum (1901-1904). Tydens sy bediening te Hilversum raak hy bevriend met president Kruger. In 1905 promoveer hy in die Filosofie aan die Universiteit van Utrecht op ‘n proefskrif: “Aristoteles in Nederland”. In 1907 aanvaar hy ‘n beroep na die Gereformeerde Kerk Pretoria, waar hy dien totdat hy begin 1914 professor aan die Teologiese Skool word. In 1919 gaan hy vir studiedoeleindes na Nederland maar kon vanweë siekte van sy eggenote nie na Suid-Afrika teruggkeer nie. Van 1920 tot 1935 bedien hy die Gereformeerde Kerk Den Haag. In 1922 behaal hy ‘n doktorsgraad in die teologie aan die V.U. Amsterdam, met ‘n dissertasie: “Het gevoel in de Heilige Schrift”. In 1927 en 1939 het hy Suid-Afrika weer eens besoek. In 1930 besoek hy Palestina. In 1932 is hy afgevaardigde van die Gereformeerde kerke van Nederland na die75-jarige jubileumfees van die Christian Reformed church in Amerika. Na aanvaarding van sy emeritaat in 1935 is hy benoem tot Ridder in die Orde van Oranje Nassau. Op 18 November 1944 is hy oorlede in Den Haag as gevolg van verwonding opgedoen in ‘n bomaanval op die huis van sy dogter. Hy was getroud met Swaantjie Antonia van Beest van Andel. Uit die huwelik is vier kinders gebore, onder wie Jacob, predikant in die Gereformeerde Kerke in Nederland. Publikasies: Aristoteles in Nederland; Het gevoel in de Heilige Schrift; Beginselen der karakter en persoonlijkheid in de Heilige Schrift; Grote Paedagogen; Karaktervorming bij kleuters en kinderen; Moderne paedaggogen en richtingen; Karaktervorming bij jeugdigen; De Geschiedenis van de Christelijke Kerk (versamelwerk); Droomen van Millennium Zieners; Keurstoffen (24 preken). |
Ds. Pieter Bos, op 'n kansel iewers in Afrika!
Ds. Bos en Jesaja op die stoep van Bos se huis in Uniondale
Ds. Pieter Bos se graf by Uniondale
|
Ds. P. Bos (1910-1923)Die geskiedenis van P. Bos is op 'n wyse in hierdie gedeelte ingewerk. Dit is van die grootste belang om sy rol en dan veral hoe Pretoria op besondere wyse in sendingwerk betrokke geraak het hier deeglik te onderskei....
PRETORIA EN DIE SENDING Die Gemeente Pretoria, gestig in dieselfde jaar as die oudste Gemeente Rustenburg (1859), het ook maar klein en nietig begin. Oorspronklik was daar slegs een ouderling en een diaken. Die aanvanklike voorneme was om saam met “Zoutpansberg” een leraar te beroep! Weldra het egter geblyk dat Pretoria, met buitewyke tot omtrent 100 myl van die standplaas, alleen kon staan en is daar in 1867 ‘n eenvoudige kerkgeboutjie opgerig. Die latere president S.J.P. Kruger het ‘n kragtige stoot hierin gegee. Reeds in 1871 spreek die Kerkraad oor die sending onder die heidene, maar is met vrees vervul oor die moontlikheid dat dit noodwendig sou moes lei tot gelykstelling, soos dit in die Kaapkolonie deur die Voortrekkers tot hulle leedwese ervaar was. Nieteenstaande die Sinode te Potchefstroom (1869) ‘n suiwere klank oor die rassevraagstuk laat hoor het, was daar nog geen voldoende gerusstelling oor die maatskaplike gevolge van kerklike sending nie en het die saak nog vir jare bly rus. Terwyl ds. P. Postma predikant van die Gemeente was (1882-1904), is die sendingsaak op verskillende kerkraadsvergaderings behandel. Die roeping van die kerk om die evangelie aan die heidene te bring, is herhaaldelik deur hom beklemtoon, maar tewens het hy gewys op die gevare as moontlik ‘n ongeskikte persoon as sendeling uitgestuur sou word. En waar sou ‘n geskikte persoon gevind kon word? Intussen is besluit om deur middel van vrywillige bydraes uit die gemeente die sendingwerk te Humpata en Venterstad te ondersteun. Maar die opbrings daarvan was gering. Duidelikheid omtrent die regte manier van sending dryf en gevolglik liefde vir daardie taak het oor die algemeen in die Gemeente ontbreek. Na die Engelse Oorlog, toe ds. Postma uit die gevangenskap weer in Pretoria terug was, is die sendingsaak opnuut en met groter erns aangepak. Daar was nl. ‘n broeder in die Gemeente wat hom gewillig aan hierdie saak sou wil wy. Dit was br. P.Bos, ‘n boekhouer van beroep. Gebore te Schiedam (Nederland) het hy in 1896 na Suid-Afrika gekom. Toe hy, na die besetting van Pretoria deur die Britse troepe in 1900, weier om die eed van getrouheid aan die nuwe regering af te lê, is hy na Brits-Indië verban. In slegte gesondheidstoestand het hy na die vrede weer na Pretoria teruggekeer en sy ou beroep hervat. Voor die Kerkraad verklaar hy hom bereid om sendingarbeid onder die stedelike en meer afgeleë gekleurdes te verrig. Daarop ontvang hy toe ‘n mandaat van die kerkraad (1904). Hier is dus die begin van Pretoria se werklike sendingaktiwiteite. Mnr. Bos, kort daarna ouderling van die Gemeente, bring ‘n groepie naturelle in ‘n waenhuis bymekaar en vertel hulle op die eenvoudige manier van Christus, die Heiland vir blank en swart. Op ouderling F.C.Eloff se plaas, Middelbult, in die distrik Pretoria arbei hy op dieselfde manier. (Later het dit tot ‘n gemeentetjie uitgegroei.) By vriende van die sending kollekteer hy geld en in kerkraadsvergaderings pleit hy vir die opstelling van ‘n sendingorde. Dit geskied en die konsep word aan die Algemene Vergadering van Transvaal voorgelê wat dit vir behandeling na die eersvolgende Generale Sinode verwys. Intussen word goedgekeur dat br. Boss al arbei in Marabastad, die naturellelokasie van Pretoria. Hierdie werk het hy op Sondae gedoen sonder enige finansiële vergoeding en in sy vry ure gedurende die week. Toe dr. S.O.Los (sien voorafgaande-PJV) herder en leraar van die Gemeente geword het (1907), het mnr Bos onder dié aansporing en leiding teologiese vakke gaan studeer met die doel om hom onder artikel 8 van die Dordtse Kerkorde tot predikant te bekwaam, Teneinde as missionêre dienaar uitgestuur te kan word. Dit was sy begeerte om voltyds in diens van die sending werksaam te wees. Hierdie doel het hy bereik in 1910. Die Sestiende Sinodale Vergadering, in sitting byeen te Reddersburg, het op 16 Maart 1910 besluit om die Algemene Vergadering van Transvaal te magtig om br. P.Bos te eksamineer volgens art. 8 van die Kerkorde. Dit het kort daarop plaasgevind en ds. Bos is as missionêre dienaar te Pretoria bevestig waar hy ook sy intreerede gehou het uit Joh.3 vers 30: “Hy moet wassen, maar ik minder worden.” Die kerkraad van Pretoria wat ‘n paar jaar tevore ‘n sendingkommissie in die lewe geroep het, het hom Soutpansberg as arbeidsterrein aangewys. In hierdie deel van Transvaal het hy voorheen reeds ‘n begin met sendingwerk gemaak, nl. op Molietsieskop, in die distrik van Pietersburg. ‘n Jaar daarna was dit ‘n gemeente met 37 belydende lidmate. Op Middelbult, in die distrik van Pretoria, was daar toe ‘n gemeente met 57 belydende lidmate. Dit was, onder die seën van die Here, dus die eerste vrugte van die sendingarbeid van die Gemeente Pretoria, en vir ds. Bos was dit ‘n oorsaak van diepe dankbaarheid dat hy hierin as ‘n instrument in God se hand mag dien. As ‘n baanbreker op die gebied van sending deur ons Kerk is dit te verstaan dat hy telkens voor besondere moeilikhede te staan gekom het. Die grootste daarvan was waarskynlik wel dat hy moes ondervind hoe min sending bewus die Gereformeerde Kerk in die algemeen nog was, en gevolglik onvoldoende finansiële middele vir uitbreiding van sendingaktiwiteite tot sy beskikking kon stel. Dit het hom partymaal wel ontmoedig, maar nooit moedeloos gemaak nie. In gehoorsaamheid aan sy hemelse Sender het hy probeer om ‘n getroue slaaf in die Here se wingerd te wees en nieteenstaande alle teleurstellings voort te gaan op die pad wat hom aangewys was. Deur hierdie volhardende arbeid het hy die kerk meer en meer onder die besef van sendingroeping gebring en die verklaarbare gebrek aan belangstelling help oorwin. Hy het die sendende Gemeente Pretoria voortdurend wakker gehou vir sy taak, kerkraad en meerdere vergaderings met waardevolle adviese gedien en deur dit alles die grondslae gelê vir die latere uitbou. Na die vestiging van die gemeente op Molietskop het ds. Bos ‘n buitepos op die plaas Dundee gestig; ook op ander omliggende gebiede; voorlopig het hy hom op Dundee gevestig, maar dit het duidelik geword dat ‘n sentrale sendingstasie met eiendomsregte aangelê sou moes word om vandaar af die verskillende poste te beheer en te bedien. Daar sou die sendeling dan woon, gereelde dienste hou, ‘n skool in die lewe roep, kategetiese onderrig verskaf, mediese hulp verleen, boerderywerksaamhede begin en geskikte naturelle as helpers in die sendingarbeid oplei. Dit was die program van aksie, die praktiese ideaal van ds. Bos. In oorleg met br. A.Venter, wat die Soutpansbergse wêreld deur en deur geken het, is toe besluit om ‘n deel van die plaas Uniondale aan te koop. Die sendingkommissie van Pretoria het egter nie oor fondse beskik om dit te onderneem nie. Daarom het ds. Bos self die plek gekoop, ‘n eenvoudige huisie daarop laat bou (hy was intussen getroud) en hom daar gevestig. Elke drie maande het hy egter oorgekom na Pretoria om die gemeente Middelbult te bedien. Omdat die trein destyds nie verder as Pietersburg geloop het nie, moes ds. Bos die afstand tussen sy huis en die spoorwegstasie, ongeveer 100 myl, met kar en muile aflê, en dit oor soms onbegaanbare paaie, deur gevaarlike driwwe en oor steil berghellings. Maar die Here het hom op al sy reise bewaar. Toe die sending in Soutpansberg vir goed posgevat het, het ook die behoefte aan ‘n sendingorde wat allerlei sake kerklik sou reël, meer dringend geword. Die gevolg wat dat die eerste sendingorde deur die Sinode van 1913 vasgestel is. Daarin is bepalings opgeneem omtrent die werksaamhede van die sendingleraar, sy status en helpers, kerklike organisasie en beheer, finansiële reëlings, ens. Uit verskillende bepalings het geblyk dat die Sinode nog maar huiwerig was om die sending die waarde toe te ken wat dit toekom. Die roeping daartoe is wel nie ontken nie, maar die ou vrees vir die moontlike gevare wat naturelle-ontwikkeling vir die maatskaplike verhoudings kon inhou, het nog nie gewyk nie. Tog was die vasstelling van die sendingorde ‘n hoogsbelangrike stap tot bevordering van sending bewustheid in al ons gemeentes. Deur hierdie dokument het die grootste kerklike vergadering sanksie verleen aan die pogings wat hier en daar plaaslik onderneem is, en daarby riglyne aangedui hoe om sending te dryf volgens die destydse opvattings van die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. Die sendingorde het tot 1924 ongewysig van krag gebly. Weens die swak finansiële toestand waarin die kas van Pretoria se sendingkommissie verkeer het, het die Sinode van 1913 besluit om op al die Transvaalse gemeentes ‘n beroep te doen tot ondersteuning. ‘n Totale jaarlikse bydrae van £253 is gevra. Sommige gemeentes het meer as hulle aandeel ingebring, ander minder, maar oor die algemeen het die jaarliks terugkerende kollekte vir die Sending ‘n aanmoedigende uitwerking op die gemeentes gehad. Hulle is daardeur telkens herinner aan hul sendingroeping en feitlik ingeskakel in die sendingaktiwiteite van die gemeente Pretoria. Op die Algemene Vergaderings van Transvaal is gereeld verslag oor die bydraes uitgebring en sendingsake bespreek. Dit was verblydend om van die Algemene Vergadering van die Kaapprovinsie ‘n vrye gif van £35 en van die Oranje-Vrystaat £18 te ontvang. Daardeur was Pretoria voorlopig uit sy ergste moeilikhede uitgehelp. Ondertussen het ds. Bos stil en swygsaam met sy arbeid voortgegaan. Op een van sy reise het hy verneem van ‘n jong naturel met die naam van Jojakim, ‘n lidmaat met ‘n Lutherse Sendingkerk, wat graag wou leer. Aangesien hy iemand gesoek het om as helper op te lei, het hy hom vir ‘n paar maande op proef na Dundee saamgeneem. Jojakim het in die begin maar swaar gekry om Hollands te leer, lees en skryf. Tog het hy volgehou. Hy bly by die “moruthi”, help hom bedags met allerlei werkies en ontvang saans onderrig. In Augustus 1919 lê hy belydenis van geloof af, maar toe bekruip die begeerte hom om weg te loop na “die groot dorp van die witmense”. Onder voorwentsel dat hy na familie toe gaan, verdwyn hy vir meer as vier jaar van Uniondale. Hy werk in die Premier myn, op die diamantdelwerye van Bloemhof, in Pretoria en in Pietersburg. Orals ondervind hy egter teleurstelling, selfs armoede en honger, en soos hy vertel is dit of ‘n stem elke keer in sy hart sê: gaan huis toe! Eindelik neem hy ‘n besluit en keer na Uniondale terug. Sy “moruthi” vind hy egter nie meer daar nie, want ds. Bos is enkele maande tevore oorlede. Mev. Bos het al die volk op die plaas bymekaar geroep en hulle meegedeel dat die verlore seun terug is. Met trane in haar oë het sy vir hom gesê: “Nou bly jy hier en jy word die voorman op die plaas.” Hy was totaal oorstelp van droefheid en berou oor sy ongehoorsaamheid en jeugdige onbesonnenheid. Maar daarby het hy die belofte afgelê dat hy nooit weer sal wegloop nie en sy “juffrou” altyd sal oppas. Dit was nou ‘n ander, ‘n gelouterde Jojakim Matlakala wat sy werk op Uniondale aanvaar het. Vandag staan hy in die amp van naturelle predikant op Siloam in die diens van ons Kerk. Ons sal in die vervolg nog verder van hom lees, want in die jare na 1923 was hy steeds ‘n getroue werker, ‘n onmisbare hulp en ‘n ywerige leerling van ds. H. du Plessis wat hom verder opgelei het. Hierbo is reeds melding gemaak van die heengaan van ds. Bos. Ten gevolge van malaria was sy gesondheid ernstig ondermyn en na ‘n betreklike kort siekbed is hy in September 1923 op Uniondale oorlede, diep betreur deur sy eggenote en hul vier jong kinders, ook deur die lidmate van sy verskillende gemeentetjies, wat hom in stille eerbied begrawe het. Kort voor sy dood het hy nog ‘n pragtige stuk geskrywe teen die gevare van die tydsgees. Dit het verskyn in die Desember nommer 1923 van “Die Kerkblad”. Ds. Bos was ‘n vroom Christen wat alles vir die diens van sy Heiland oor gehad het. ‘n Ruim inkomste het hy prys gegee om onder baie moeilike omstandighede, in betreklike armoede, sy Koning in die sendingarbeid te dien. Gedurende tien jaar het hy baie getrou met groot liefde en opoffering gearbei. Baie lidmate het in daardie jare tot die kerk van die Here toegetree. As grondlêer van ons sending sal sy naam altyd deur ons Kerk in ere gehou word. Die dood van ds. Bos was ‘n swaar slag vir die sending, te meer daar geen opvolger onmiddelik sy arbeid kon oorneem nie. Maar met groot dankbaarheid en waardering kan vermeld word dat mevrou Bos besluit het om voorlopig op Uniondale te bly. Dit is deur haar opofferings dat die baanbrekerswerk wat gedurende tien jaar verrig is, nie heeltemal in verval gekom het nie. Wel was daar vir 18 maande geen bediening van Woord en Sakremente nie, maar mevrou Bos het toegesien dat ou Jesaja, die vertroude helper, voortgaan met bearbeiding van die lidmate van die hoofgemeente en die vernaamste buiteposte. Jojakim, die plaasvoorman, het vir Jesaja bygestaan in die geestelike werk, aangesien laasgenoemde al oud en swak was. Maar sonder bediening kon die sendingaksie geen voortgang hê nie. Op advies van die sendingkommissie het die Kerkraad van Pretoria toe besluit om verskillende predikante van Transvaal te nader om Uniondale om die beurt elke drie maande te besoek, sodat daar weer gereeld dienste gehou sou word. Hierdie plan was geseënd. Met die besoek van ds. M. Postma van Johannesburg vind die eerste kerkraadsvergadering na die dood van ds. Bos plaas, word Nagmaal gevier en die Doop bedien aan sestien kategete en aan vyf volwassenes, waaronder Manasse, wat later ook helpes op Uniondale was. Na hom het verskillende predikante die sendingstasie besoek, en almal verras om te sien hoe goed alles daar onder leiding van mevrou Bos in orde gehou word, en hoe ouderlinge Jesaja en Hosea, gehelp deur Jojakim, met erns en toewyding probeer om die evangelie onder jonk en oud uit te dra. Soms was daar tot 200 naturelle in die te klein kerkie. ‘n Vaste sendeling het egter ontbreek en omdat hierdie vakature vir meer as vier jaar bestaan het, kon dit nie anders nie as dat op die duur agteruitgang moes intree. Gelukkig was daar die vooruitsig van ‘n nuwe sendingleraar in die persoon van Hugo du Plessis, wat toe nog aan die Teologiese Skool met sy studies besig was, maar hom reeds bereid verklaar het om in die toekoms sy kragte aan die sendingsaak te wy. In hierdie maer jare van werklike sendingaktiwiteit het nogtans die besef van sendingroeping in die Gereformeerde Kerk sterk toegeneem. Vernaamlik moet dit toegeskryf word aan die aandag wat die wetenskaplike werk “Kerk en Sending” van dr. P.J.S. de Klerk geniet het. Op hierdie onderwerp het hy in 1923 aan die Vrye Universiteit te Amsterdam gepromoveer. Dit was ‘n proefskrif waarin die sending prinsipieel kerkregtelik, en vir sover dit Suid-Afrika betref, histories-krities beskou is en daardeur ‘n vername leidraad vir ons Kerk geword het. Sinds die verskyning van hierdie boek was dr. de Klerk vanselfsprekend dié man vir kerklike adviese insake die sending. Saam met ander deputate het hy herhaaldelik waardevolle rapport aan vergaderings van partikuliere en generale sinodes voorgelê, steeds aan besprekings deelgeneem, baie artikels is in “Die Kerkblad” geskryf en die sendingsaak orals aktief bevorder. Dat die sending meer prominent in ons kerk geword het, daarin het dr. de Klerk ongetwyfeld ‘n belangrike aandeel gehad. Teen die end van 1927 het proponent H.du Plessis sy studie aan die Teologiese Skool voltooi en ontvang hy kort daarna van Pretoria die beroep as sendingleraar. Hy aanvaar die beroep en word op 18 Maart 1928 in die gemeente Pretoria bevestig. Voorlopig word aan hom die bestaande sendingveld op Uniondale met die daarby behorende buiteposte aangewys. Die ou gemeentetjie op Middelbult in die Pretoria-distrik het na die dood van ds. Bos weggekwyn en doodgeloop. Ooreenkomstig die Sinode-besluit van 1924 het die Kerkraad van Pretoria intussen uitgesien na ‘n nuwe en grotere sendingterrein in Soutpansberg. Die rede hiervoor was dat Uniondale min geleentheid vir uitbreiding gehad het, aangesien die omgewing reeds deur die Berlynse en Switserse Genootskappe beset was. Verder is gevoel dat die Kerk self eienaar van die grond, en alles wat daarop gebou sou word, moes wees. In oorleg met die Sinodale Sending deputate is toe ‘n stuk grond van 500 morge in die onopgemete kroongronde, noordoos van Louis Trichardt, teen 5 sjielings per morg, plus wetlike koste, van die Regering aangekoop. Die Sinode van 1927 het die aankoop goedgekeur. Hierdie plaas is die teenswoordige sendingstasie Siloam. In Augustus 1928 het ds. Du Plessis op Siloam begin. Jojakim het hom vergesel as tolk en helper, terwyl Jesaja die werk op Uniondale voortgesit het. Mevrou Bos het nog enkele jare daar bly woon en steeds aktief in die gemeentelike werk belanggestel. Sy het ‘n werkklas vir vroue georganiseer waar hulle onderrig in naaldwerk ontvang het, nadat vooraf ‘n gedeelte uit die Heilige Skrif behandel is. Na die dood van Jesaja in 1929 het sy seun Andries ‘n tyd lank as helper en onderwyser opgetree, waarna hy na Molietskop verplaas is. Manasse het toe helper op Uniondale geword. Omdat die gemeentetjie van Molietskop geen groei getoon het nie, en so geïsoleer was, is dit later (1937) aan die sorg van die Ned. Geref. kerk toevertrou, aangesien hierdie Kerk uitgebreide sendingwerksaamhede in daardie omgewing gehad het. Die nuwe stasie Siloam is in ‘n oostelike rigting van Uniondale afgeleë, in die gebied van die Venda-kaptein Sibasa, nie ver van die hoofstad van Mpefu, ‘n ander Venda hoofman. Aanvanklik het die sendeling in ‘n tentjie gewoon. Jojakim het gou-gou die Venda-taal leer praat en vir die kinders skoolgehou onder ‘n boom. Sondae is onder dieselfde boom kerk gehou, maar die opkoms was baie swak. Daar was agterdog onder hierdie heidene teen die bedoelings van die blanke leraar wat onder hulle kom woon het. Daarby was ook die kapteins hom nie goedgesind nie, en was dit dus moeilik om invloed by hul onderdane te wen. Die Bakvenda’s was nog bar, verharde heidene, vol bygeloof en vrees vir die geestewêreld. Daar was nog van hulle wat met skildvel en assegaai rondgeloop het. Afgesien van sommiges wat in aanraking met die Berlynse Sending in die omgewing gekom het, was die Christelike godsdiens en beskawing afeitlik nog onbekend. Na enkele maande is met die bou van die pastorie en kerkgeboutjie begin. Jojakim het daarby soos ‘n gewone handlanger gehelp, klei aangemaak en kruiwa gestoot. Al was hy evangelis, was geen vorm van arbeid vir hom te vernederend om te doen nie. Vir homself het hy ‘n stroois opgerig, en dit was sy wens dat die sendingleraar en sy vrou daarin moes woon totdat die pastorie klaar sou wees. Teen die begin van 1930 kon ds. en mevrou Du Plessis hul eenvoudige woning betrek. Die skooltjie wat intussen gestig is, het stadigaan uitgebrei, want die bar naturel het tog die besef gehad dat onderwys sekere materiële voordele meebring. Die doopklas is aanvanklik deur vyf persone bygewoon. Nadat twee Christen-families, nl. die van Alfeus en Joël, op Siloam kom woon het, kon ds. Du Plessis met hierdie twee, plus Jojakim, ‘n soort van “kerkraad” vorm, alhoewel daar nog geen gemeente was en die ampte dus nog nie funksioneer het nie. Die eerste vergadering is op 17 Mei 1931 gehou. Joël het later sowel as plaasvoorman en as ouderling ‘n belangrike aandeel in die ontwikkeling van die stasie en die gemeente gehad. Geeneen van die kapteins wou toelaat dat ons Kerk in hul gebiede buiteposte aanlê nie. Gevolglik is daar buite hul grense met werksaamhede op boereplase begin. So is daar op die plase Swartfontein, Diepkloof, Chewas en Boabab aanvoorwerk gedoen, maar weens gebrek aan fondse en geskikte naturellekragte kon nie orals helpers aangestel word nie. Jojakim moes maar inspring en elke môre vroeg na ‘n paar plase gaan om daar vir die kinder wat hy bymekaar gekry het, skool te hou. Later is hy uitgestuur met ‘n donkiewa en ‘n klompie voorrade om orals geboutjies op te rig. Ten einde die reg tot okkupasie van die terreine nie te laat verval op plekke wat deur die regering aan die naturelle gebiede toegevoeg is nie. Daarby het hy meermale ernstige teëstand van die kapteins ervaar, maar hy het volhard en kon deur taktvolle optrede sy opdragte uitvoer. In 1932 het die Kerkraad van Pretoria aan die Partikuliere Sinode van Transvaal meegedeel dat weens verskillende omstandighede die gemeente nie meer kans sien om as sendende gemeente op te tree nie. Die Kerkraad van die pasgestigde Gemeente Pretoria-Oos het hom egter bereid verklaar om hierdie taak oor te neem en dit het die goedkeuring van die Sinode weggedra. Ds. Du Plessis, die sendingleraar, is toe losgemaak van Pretoria en bevestig as sendingleraar van Pretoria-Oos. |
JA du Plessis, reeds professor (agterste ry 2de van links. Op die foto verskyn agter van links na regs JGH v/d Walt, JA du Plessis, JC Kruger, W.Postma (Okulis). In die middel G. Kruger en heel voor van links na regs PC Snyman en ook JD du Toit (Totius)
|
Ds. JA du Plessis (1914-1921)Jacobus Albertus du Plessis is gebore te Rustenburg op 23 Oktober 1873. Hy is die tweede seun van ds. Lodewicus Johannes du Plessis en Martha Gerbrechta Sophia Smit. Sy onderwys het hy ontvang in Colesberg, waar hy in 1889 matrikuleer. In 1890 skryf hy in as student in die Literariese Departement van die Teologiese Skool op Burgersdorp. In 1895 verwerf hy die B.A.-graad en in 1896 word hy benoem as professor in die Literariese Departement. Intussen sit hy sy teologiese studie voort. Tydens die Oorlog van 1899-1902 dien hy as veldprediker en is ook behulpsaam met rooikruiswerk. In 1903 aanvaar hy ‘n beroep na Reddersburg en in 1914 na Pretoria, waar hy dien totdat hy in 1920 as professor aan die Teologiese Skool benoem word.
Vanaf 1921 dien hy aan die Skool en later ook as professor aan die P.U.K. Hy was hoofsaaklik verantwoordelik vir Nuwe-Testamentiese vakke, Kerkgeskiedenis en Kerkreg. Hy is plotseling oorlede op 28 Februarie 1935. Hy sal onthou word as ‘n kragfiguur met sy wortels diep ingeslaan in die onvervalste waarhede van die Heilige Skrif en die gereformeerde belydenisskrifte. Waar hierdie waarhede, volgens sy oortuiging, ondermyn is, het hy verdedigend en strydend opgetree. Bekend is sy stryd teen die modernnisties-georiënteerde prof. J.du Plessis van Stellenbosch. Sy Kerkbladartikels is later in boekvorm uitgegee: “Die Gereformeerde kerk en kerkregering gehandhaaf teen prof. J.du Plessis”. Die Afrikanersaak het hom na aan die hart gelê. Hiervan getuig sy geskrif: “Op die sporte van die Calvinisme in ons maatskaplike en staatkundige lewe”. Talle geleentheidsartikels het uit sy pen verskyn. Hy was getroud met Laurika Postma en na haar afsterwe met Aletta Postma, beide dogters van prof. Dirk Postma (snr) en Johanna Willemina van Biljon. Uit die huwelike is twaalf kinders gebore, onder wie prof. L.J. du Plessis, baie jare professor aan die P.U. vir C.H.O., en prof. Hugo du Plessis, tans professor aan die Teologiese Skool en P.U. vir C.H.O. |
Ds. Rumpff op reis saam met prof. HH Kuyper in 1924
Dit was in 1924 op voorstel van ds. Rumpff dat daar besluit is tydens HH Kuyper se besoek aan Suid-Afrika om 'n mosie van gelukwense te stuur met die 25ste regeringsjaar van koningin Wilhelmina. Hierdie karos was aan HH Kuyper oorhandig om dit aan die koningin te skenk.
Ds. Rumpff deel van 'n redaksievergadering vir die Almanak van 1935. Heel regs is ds. JV Coetzee van Potchefstroom.
|
Ds. D. Rumpff (1922-1941) |
Ds. H. du Plessis (1928-1933)(Hierdie gedeelte moet in noue samehang met die werk van ds P Bos gelees word. In die gedeelte oor P. Bos word daar reeds dikwels na ds. Hugo du Plessis verwys...)
PROF. H. DU PLESSIS Hugo du Plessis is op 22 Maart 1902 gebore te Burgersdorp as tweede seun van prof. Jacobus Albertus du Plessis (sien voorafgaande JA du Plessis- PJV) en Laurika Postma. Aan die P.U.K. behaal hy in 1923 die B.A.- en in 1942 die M.A.-graad in Sosiale Antropologie. Nadat hy in 1927 aan die Teologiese Skool in die Kandidaatseksamen geslaag het, dien hy as sending leraar van die volgende kerke: Pretoria (1928-1932), Pretoria-Oos (1932-1950) Johannesburg-Noord (1950-1956). Van 1956 tot 1959 dien hy as dosent aan die Teologiese Skool Dube vir nie-blankes. Vanaf 1959 is hy professor aan die Teologiese Skool in Sendingwetenskap. Hy is getroud met Maria Cornelia de Klerk. Uit die huwelik is ses kinders gebore, onder wie Cecilia van der Walt, eggenote van dr. I.J. van der Walt, sendingleraar van die vier Potchefstroomse kerke. Hy geniet internasionale erkenning as kenner van die Sendingwetenskap. In Augustus 1968 was hy een van die referente op ‘n internasionale sendingkonferensie in Nederland. In 1963 het hy die Gereformeerde Kerk verteenwoordig op die Ekumeniese Sinode te Grand Rapids, V.S.A. Op sendinggebied het hy grondleggende en rigtinggewende dienste aan die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gelewer. Hy dien in die redaksie van die Calvinistiese blad “Woord en Daad”, asook as redakteur van die sendingblad “Die Oes”. Publikasies: Die Missiologie as ‘n Teologiese Wetenskap; Die geskiedenis van die sendingwetenskap; Het die Christendom gefaal?; ‘n Nuwe deurbraak; Die Protestantisme in Afrika, ‘n blik op Afrika. Hierbenewens het van hom etlike artikels, asook redes by spesiale geleendhede gelewer, in druk verskyn. |
Ds. N Droomer (1968-1973)HERINNERINGE AAN MY DIENSTYD IN GEREF. KERK PRETORIA
Dit was vir my ‘n besondere voorreg om die Geref. Kerk Pretoria vir ses jaar te kon bedien saam met ds. Thys Booyens. Onnodig om te sê het Geref. Kerk Pretoria ‘n besondere geskiedenis en tradisie. Met die uitsondering van Geref. Kerk Rustenburg is dit die oudste gemeente in die kerkverband. En dan die besondere verbintenis van Staatspresident Paul Kruger met die gemeente. Aan die portrette in die voorportaal kan gesien word watter galery van begaafde predikante Pretoria-gemeente bedien het. Gevolglik het ek deeglik bewus van eie tekortkominge met huiwering die beroep daarheen aanvaar, maar vertrou dat ek met die hulp van my ouer kollega wel my pad sou vind. Hoewel die Here my en my vrou in die twee vorige gemeentes wat ek bedien het reeds baie moes leer, was die bediening van Pretoria-gemeente wel ‘n uitdaging. Ons kan nie anders as om te sê dat ons met ons eie oë gesien het hoe die Psalm “Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het” vir ons letterlik vervul word. Pretoria is ‘n regte middestadsgemeente. Dit het baie min oorgehou van die “huislikheid” wat dit waarskynlik vroeër as enigste Geref. Kerk in Pretoria gehad het. En dit het ‘n eiesoortige bedieningspatroon meegebring. Daar was ‘n snelle wisseling van lidmate. Die aantal attestasies wat per jaar ontvang en afgegee is, was meer as die helfte van die totale lidmatetal en die attestasie-skriba het amper ‘n voltydse werk gehad, maar hy het uitnemend daarin geslaag om dit by te hou. Pretoria-gemeente was ‘n sort deurgangspoort na die ander gemeentes in die buitewyke van die stad. Daar was wel drie of vier areas in die gemeente waar lidmate meer permanent gewoon het, soos Capital Park, die Sentrale Gevangenisterrein en Salvokop-Spoorwegterrein. Baie jongmense en jong gesinne was egter vir ‘n baie kort tydjie in die gemeente voordat hulle verhuis het na ‘n gemeente buite die middestad. Die gevolg was dat daar voortdurend ‘n groot tekort aan ampsdraers was en dat die gemeente in die ses jaar van my bediening nooit uit ‘n dubbeltal ‘n ouderling of diaken kon kies nie, maar net die naam wat deur die kerkraad voorgedra is kon goedkeur of afkeur. Ook in die kerkraad was die wisseling so dat daar byna elke Sondag nuwe ampsdraers bevestig is. Na my oordeel kon die predikant nie anders as om toe te spits op die prediking nie. Pastorale bearbeiding was veral by die jongmense so te sê uitgesluit of vir ‘n baie beperkte tyd moontlik. Aangesien ons twee predikante was kon ek meer tyd bestee aan voorbereiding van preke en het dit my help groei, ook vir die werk in die gemeentes wat ek daarna bedien het. Na ‘n preek oor hoe ons ons roeping om ‘n gemeenskap van heiliges te wees en ons gawes tot nut en saligheid van mekaar aan te wend (vr en antw. 54,H.Kat.) was een ouderling se ernstige kommentaar: ‘so-iets is vandag in hierdie gemeente nie meer prakties moontlik nie”. Baie van die lidmate ken mekaar glad nie eens nie, wat nog te sê in mekaar belangstel. Enkele susters het begin om na die diens op die stoep van die saal tee te bedien sodat daar geleentheid was om mekaar al hoe beter te leer ken-‘n gebruik wat ek verneem nou nog voortduur. Dit het selfs so gegroei dat wanneer die susters nie kan nie, die ouderlinge oorneem. Met groot dankbaarheid dink ek terug aan ouderlinge en diakens wat hulle roeping ernstig opgeneem het, die lidmate wel trou besoek het en met die Woord van God waarlik vir die gemeente herders was. So is ‘n beskeie broeder as ouderling gekies en het hy dadelik met groot toewyding die heel swakste wyk elke Saterdag begin besoek, na die mense geluister, en intens met hulle meegeleef. Sy werk het uiteindelik die vrug gedra dat ‘n broeder wie se huwelik en gesin heeltemal uitmekaar geval het hom bekeer het, sy drinkery laat staan het en uiteindelik tot ouderling verkies is. Die gemeente was geseën met ervare ouderlinge, wie se wysheid by kerkraadsbelissings baie vir die kerk beteken het. Maar benewens toegewyde ampsdraers was daar ook broeders en susters wat verstaan het wat dit is om die amp van alle gelowiges te bedien. So was daar ‘n suster, sy leef ook nou nog, wat week na week uit besef van haar taak as gelowige per bus en te voet siekes en eensames gaan opsoek het en met hulle meegeleef het sonder dat sy ooit aangesê is om dit te doen. Behalwe die Bybelstudie wat die JV saam gedoen het, het hulle ook voorsien in die jongmense se behoefte om sosiaal met mekaar te verkeer. Die geesdrif was so groot dat dit nie altyd goed beheer kon word nie. Dit het ons ‘n keer ervaar toe hulle die aand by ons aan huis kom koffie drink het – ‘n gereelde instelling. Terwyl sommige koppies gewas en afgedroog het, het die ander daardie besondere aand die huis “het-ingerig” met pampoene in die oond en breekgoed in die badkamer. En dan was daar natuurlik die “serenades” voor ons slaapkamervenster. Dit het die hele omgewing aan die wonder gehad, maar ook laat vra vir nog herhalings daarvan. My en ds. Booyens se werk in Pretoria-gemeente het ingesluit bediening van gevangenes in die Sentrale Gevangenis. Ons kon die evangelie daar bring vir meer as net Gereformeerde gevangenes en nooit vergeet ek die pastorale werk by die gevangenes wat in die dodesel was en hulle teregstelling afgewag het nie. Hoe het dit nie ons eie geloof versterk om so ‘n veroordeelde, nada hy of sy tot bekering gekom het die oggend na die galg te begelei en te hoor hoe hulle hul geloof in die Here Jesus Christus uitsing – wat ‘n genade van die Here in die lewe van ‘n sondaar. Vir baie jong paartjies was dit ‘n ideaal om in die historiese ou kerkgebou met sy besondere atmosfeer te trou. Dan is gepraat van “ons wil in Oom Paul se kerk trou”. Die gevolg was dat baie Saterdae in beslag geneem is deur huweliksbevestigings, nie net van paartjies uit Pretoria gemeente nie, maar ook uit ander Gereformeerde gemeentes. Heelwat kan vertel word oor interessante voorvalle tydens huweliksbevestigings. Onder andere het ‘n strooijonker omdat hy weens al die baie reëlings die oggend nie geëet het nie die middag tydens die lees van die huweliksformulier flou geword. Toe hy soos ‘n paal daar neerslaan het hy die glaskas waarin die ou Kanselbybel was stukkend geval, maar gelukkig geen letsels opgedoen nie. Daarna het ek elke paartjie gewaarsku om tog op hulle troudag met gevolg en al ‘versadig’ voor die kansel te verskyn. Pretoria-gemeente het altyd ‘n oop hart en hand gehad vir die verbreiding van die evangelie. Afgesien van die finansiële sustentasie waarmee die gemeente jong swart gemeentes ondersteun het, het verskeie ouderlinge op Sondae ook gereeld in swart woongebiede gaan dienste hou. Die gemeente het min skoolgaande kinders gehad en ouers kon hulle nie self tydens weeksdae by die kerkgebou besorg nie. ‘n Enkele suster se motor, ds. Booysens se stasiewa en ons eie het dus Vrydae volgelaai van kinders by die kerk opgedaag vir die Bybelklas wat ons sou hou. In ‘n gemeente met soveel wisseling is daar nie net behoefte aan ‘n toegewyde attestasie-skriba nie, maar ook aan ‘n skriba, koster en orrelis wat heelwat jare kan volmaak met hulle diens aan die gemeente. Sulke kontinuïteit strek net tot heil van die gemeentesang en van administratiewe en organisatoriese sake. Ons dink hier aan die jarelange orrelspel van Cecelia Erasmus en die toegewyde skribawerk van wyle Awie, sonder om hulle voorgangers of die wat hulle opgevolg het te vergeet. Pretoria-gemeente was altyd goed bewus van die roeping om te sorg dat daar genoeg bedienaars van die Woord in die kerkverband moet wees. So het hulle my en verskeie jongmanne tydens hulle teologiese studies finansiëel gehelp om die studie te kan voltooi. Twee van dié ondersteundes was tydens my dienstyd lidmate van Pretoria, nl. Danie Smit, toe nog in diens van die gevangenis, tans predikant van Noord-Oosrand en Cobus Petzer, later dosent by die destydse PU vir CHO in Grieks en Nuwe Testamentiese vakke. So het die gemeente ‘n belegging gemaak in die koms van die Here se koninryk, waarvoor ons nog altyd dankbaar is. Ek is die Here dankbaar vir die vorming wat ek tydens my diens in u gemeente ontvang het en ek en my vrou, Sandrina, wens u by die honderd-en-vyftigste herdenking van die stigting van Geref. Kerk Pretoria die Here se seën toe op al u werk. Mag Hy u steeds gebruik tot heil vir die Geref. kerkverband. N Droomer, v.d.m. 18 Maart 2009 |