Min. Pieter Gert Wessel Grobler en egg. Lydia (geb. Fouche).
Die Kanselbybel nou nog in besit van Gerf. kerk Pretoria is deur hierdie PGW Grobler aan die kerk geskenk. |
Min. PGW GroblerMinister P. Grobler, algemeen bekend as “Oom Piet”, is gebore in die huis van President Kruger, toe nog Kommandant-generaal van die Transvaal en woonagtig op die plaas Boekenhoutfontein, in die distrik van Rustenburg, op 1 Februarie, 1873. Sy moeder was ‘n susterskind van President Kruger. Toe hy nog maar ‘n paar jaar oud was, het sy ouers getrek na die ander kant van Pilansberg en het op die plaas Bierkraal gaan woon. In die tyd was daardie wêreld nog wild en woes en die naaste bure was ‘n dagreis vêr met die ossewa daarvan verwyder, in die Pilansberge.
Daar het die jonge Pieter die gewone werk van ‘n boerseun help verrig, totdat hy die ouderdom van 10 jaar bereik het. Die indruk wat daardie wêreld destyds op die jong seun gemaak het, is waarskynlik verantwoordelik vir sy bekende voorliefde wat hy vir die Transvaalse Bosveld voel en ook sy simpatie met die mense wat as pioniers die wildernis ingetrek het en later ‘n groot deel van sy setlaars uitgemaak het, toe hy Minister van Lande geword het. In 1883 het sy ouers getrek na Swartruggens, waar sy vader gewoon het op die plaas Otterfontein, later op Steenbokfontein. Hier het Pieter sy eerste onderwys ontvang. Van jongs af was hy besonder gevat. Sy ouers was egter arm en hulle kon hom nie help nie. Hy moes hom dus maar meeste self help, wat blyk uit ‘n interessante voorval uit die dae en wat bewys hoe leeragtig hy was. Hy moes bokke oppas en het daarom weinig kans gehad om skool te gaan. Pieter het ewewel ‘n plan gemaak. Hy het na die onderwyser gegaan en met hom ‘n kontrak gemaak. Die onderwyser moes Pieter leer en dan sou hy die onderwyser ‘n bok gee. Wel, so gesê, so gedaan. Kort-kort moes Pieter uitspring om te kyk of die bokke nog nie weggeloop het nie. Dit het drie maande so aangegaan totdat die onderwyser hom in kennis gestel het dat hy hom nou nie verder kan leer nie. Hy het toe net soveel as sy meester geken. Pieter het die bok vir die onderwyser gebring, maar hy wou dit nie vat nie, wat hy het gesê: Pieter het alles self geleer. Nou wil die seun verder leer, maar die moeilikheid was weer, daar is nie geld nie. Hy besluit toe om self te gaan skool hou om so geld te verdien om verder te leer. Met die bietjie geld wat hy so bymekaar gemaak het, besluit hy om na Pretoria te gaan, na die bekende gimnasium van Meester Louis. Met die poskar het hy die reis onderneem. Pieter het gemeen dat hy vir elke stuk bagasie ekstra moes betaal en daarom het hy besluit om maar twee pakke klere op mekaar aan te trek om sodoende sy pakkies minder te maak. Dat hy dit op die reis tussen Rustenburg en Pretoria in die hartjie van die somer nie koud gehad het nie, ja, amper van die hitte beswyk het, is te verstaan. Pieter was toe so ‘n opgeskote seun en President Kruger het hom vir jare nie gesien nie. Deur bemiddeling van Tjaart Kruger, die President se seun, het hy egter by die President gaan inwoon, feitlik as een van sy kinders. Nadat hy ongeveer ‘n halfjaar op die gimnasium was is daar ‘n wedstryd uitgekryf vir studiebeurse en Pieter het die eerste prys behaal. Enkele jare later is hy op aanbeveling van Mnr. Louis aangestel as klerk op die Onderwys Departement. Vanaf dié tyd het hy pal in die Staatsdiens gebly tot met die uitbreek van die Boere-oorlog. Later is hy oorgeplaas na die Departement van Mynwese, waar hy dit gebring het tot verantwoordelike klerk in die hoofkantoor. Intussen het hy maar aldeur gestudeer en privaat lesse in die aand bygewoon. Dit was ook in hierdie tyd dat hy aktief in die joernalistiek opgetree het; hy was vir ‘n geruime tyd redakteur van “De Pers”. Hy was nog aan die Departement van Mynwese werksaam toe hy getroud is met Mej. Lydia Fouché. In 1896, kort na die Jameson-inval, het hy ‘n reis gemaak na Europa, waar hy verskillende lande besoek het. Ongeveer ‘n jaar voor die tweede vryheids-oorlog is Pieter op aandrang van ‘n deputasie uit die Volksraad aangestel as onder-sekretaris van Buitelandse Sake. Gedurende die eerste maande van die oorlog het hy verskeie departemente waargeneem, maar is later na die westelike front, waar hy by die Rustenburgse kommando aangesluit het en aktief deel geneem het aan die gevegte rondom Mafeking. Kort voor die inname van Pretoria is hy deur President Kruger teruggeroep na ‘n vergadering van die Uitvoerende Raad, waarby teenwoordig was Generaal Botha en Pres. Steyn, en besluit is dat President Kruger na Europa moes gaan en op die President se versoek is besluit dat Grobler hom moes vergesel in die hoedanigheid van sekretaris. Hy is byna drie jaar in Europa gewees, waar hy in aanraking gekom het met die meeste van die destydse vooraanstaande manne. Hier het die toekomstige Minister ‘n deeglike kennis van die Franse taal opgedoen en ook kennis in ander rigtings deeglik uitgebrei. Na die dood van pres. Kruger het Grobler teruggekeer na Transvaal en op sy plaas “Commissiedrift” in die Rustenburgse gaan woon, waar hy as boer hard gewerk het om ‘n bestaan te maak. Toe wyle generaal Botha in 1904 “Het Volk” opgerig het, het hy Grobler opgedra om die wyk waarin hy woon te organiseer. Na die verkiesingg in 1907 het Botha hom laat benoem as voorsitter van die Transvaalse Landraad en ook as direkteur van die Landbank. In 1910 het hy egter op aandrang van sy distrik besluit om die betrekkings neer te lê en hom verkiesbaar te stel vir die Volksraad, wat hom geluk het. In die skeuring van 1912 het Volksraadslid Grobler sy bes gedoen om die moeilikheid opgelos te kry deur by genl. Botha aan te dring op ‘n meer versoenende houding teenoor genl. Hertzog. Toe dit hom egter nie geluk het nie, het hy definitief besluit om sy lot met genl. Hertzog in te werp, nieteenstaande wyle genl. Botha persoonlik ‘n groot vriend van hom was. In Transvaal het Grobler toe ‘n vergadering byeengeroep, waarheen alle takke wat met genl. Hertzogg saamgevoel het, verteenwoordigers moes stuur. Die eerste kongres is kort daarop in Augustus 1914 gehou en daar was omtrent ‘n 100 afgevaardigers. Daar is Grobler toe as leier van die Party in Transvaal gekies. In die Volksraad het hy hom verset teen deelname van die Unie aan die oorlog en later is hy saam met genl. Beyers die veld in met die Rebellie. Hy is later gevang en veroordeel tot 2 jaar gevangenisstraf en £500 boete, maar na verloop van 18 maande is hy onder parool uitgelaat. Terwyl mnr. Grobler in die tronk was is Mnr. Tielman Roos gekies tot leier van die Nasionale Party in Transvaal, wat hy gebly het tot 1929, toe hy as gevolg van swakke gesondheid hom uit die politiek moes onttrek. Mnr. Grobler, wat gedurende hierdie tyd assistant leier was, is toe weer as leier gekies. In 1921 het mnr. Grobler weer Volksraadslid van sy ou distrik Rustenburg geword. Toe die ooreenkoms-regering in 1924 aan die bewind van sake gekom het is Mnr. Grobler Minister van Lande in die Hertzog-ministerie geword. Na die verkiesing in 1934 het hy die Departement van Naturellesake oorgeneem. Dis algemeen bekend dat Minister Grobler ‘n troue ondersteuner van sy kerk is, waar hy van hou met al die liefde van sy hart. Opgestel deur n ene DR |