Die eikehout preekstoel bestaan uit ’n hoë smal uitswellende voetstuk waarop 'n veelhoekige preekstoel rus, met 'n trap en trapleuning aan elke kant van die preekgestoelte wat met Neo-Hollandse Renaissance-versierings uitgevoer is.
Die klankbord het die vorm van 'n baldakyn met 'n oop latern, soos die een wat op die toringspits voorkom, met 'n pinakel gekroon. Dit is met 'n sterk anker in die suidelike muur bevestig. Links van die preekstoel was 'n preek- leserstoel wat in 1968 aan die Nasionale Kultuurhistoriese- en Opelugmuseum, Pretoria geskenk is. Hierdie belangrike meubelstuk in die liturgie en die kerkgebou is van C H Eckardt, Rotterdam, ingevoer en geïnstalleer. Weerskante van die preekstoel het bruineikehoutaankondigingsborde gehang. Die sentrale posisie van die preekstoel is verder beklemtoon deur die loodregte plasing van die sitplekke in die drie arms van die kruis, soos dit in die sewentiende eeuse kerkgeboue aangetref was. Die plasing van die sitplekke het die liturgiese ruimte of dooptuin gevorm wat weer met die kruising in die dakviering ooreengestem het. In die ruimte is die Nagmaaltafels en-stoele en die doopvont ingebring wanneer die sakramente gebruik word. Die oop eikehoutkerkbanke wat in rye langs die mure gestaan het, was vir die mans bedoel, terwyl die vroue en kinders in die middel op vaste yster- en houtstoel-konstruksies gesit het. Die vaste bankplan dateer uit die 19de eeu teenoor die gekoopte, gehuurde sitplekke en/of eie stoele in die kerkgebou wat vroeër die gebruik was. Die agterste kerkbanke staan effens hoër op h klein verhogie of podium van die vloer of gelig (Pew Lat. podium) terwyl die vloer tot by die dooptuin effens afdraande loop. Op die wange van die houtbanke kom dieselfde bol- en knopversierings soos op die preekstoel voor. Gré Braaksma vind dat die yster en hout opklapbanke in die gebou met die mooi houtbanke ’n skrille kontras vorm "en in sy utilitêre vorm 'n teleurstelling is”. Die Presidentspaar, wat lidmate van die Gereformeerde gemeente Pretoria was, het spesiale plekke en stoele in die kerkgebou gehad. "Die stoele word vandag nog voor die preekstoel in die kerkgebou gehuisves en is ’n intieme persoonlike herinnering aan Kruger se godsdienstige toegewydheid en simbolies van die groot invloed wat sy Christelike beginsels op die geskiedenis van die ZAR gehad het." Beide stoele is in ’n neo-Rococostyl ontwerp en dateer uit die tydperk rondom 1890. Die President se stoel is van okkerneuthout gemaak en is met ’n tipe kunsleer bekleed wat hoogs modieus was. Bo teen die rug van die stoel is die wapen van die ZAR uitgekerf. Mev. Kruger se mahoniehoutstoel is van ’n anderontwerp en was met fluweel oorgetrek. Beide stoele is met klapperhaar gestoffeer. Om te verseker dat die twee stoele in hulle oorspronklike milieu bewaar bly en omrede hulle simboliese betekenis, is beide in 1981 tot nasionale gedenkwaardighede verklaar. Die klein voetstoeltjie wat deur mev. Gezina Kruger in die kerk gebruik is, is gerestoureer en in veilige bewaring van die kerkraad geplaas. Deur die drie ingange word die interieur van die kerkgebou betree en word die geweldige hoë mure direk deur die donkerbruin lambrisering wat die mure half- weg vul, gebreek en die aandag dadelik op die preekstoel teen die suidelike muur gevestig. Die witgepleisterde muurvlakke is deur rondboogvensters met gekleurde glas-in-lood, pilasters en konsoles gebreek. Die galery is deur agt kolomme gestut en begrens deur ’n balustrade met paneelbewerking van donker hout. Dit verhoog die intieme sfeer in die gebou en vorm 'n fyn gebalanseerde horisontale teenwig teen die vertikale lyn. Die orrel wat in 1896 van W Sauer uit Frankfurt in Duitsland ingevoer en in die vergrote kruiskerk deur Klaas van Rijsse( jr.) geïnstalleer was, is na die nuwe kerk oorgebring en in die noordelike vleuel van die galery aangebring. Die firma De Wijn en Engelenburg het die skilderwerk op die geïnstalleerde kerkorrel onderneem en die firma Delfos Bros, elektriese- en algemene ingenieurs het die koperkroonlugters voorsien waarvoor hulle deur die kerkraad van die Gereformeerde gemeente Pretoria bedank is. Die swaar sinkplaatdak is deur 'n sterk dakkapkonstruksie gedra wat in die plafonviering sigbaar is en deur die gebruik van trekstange wat oorkruis van muur tot muur hoog in die plafonruimte voorkom, word die gewig van die dak na die mure en trekstange terugverplaas. Die plafonvliering is kunstig en vaardig met dennehout betimmer en verleen '’n verdere begrensing aan die ruimtelikheid. Tereg is dan in die De Volkstem op 24 Desember 1897 berig: "De kerk ziet er van binnen even keurig netjes uit, als van buiten; zij is electries verlicht en bezit een uitstekende orgel, een zierlijk preekstoel, terwijl de soliditeit van de gebouw bewezen door de zware massa die de galeryen door het reusachtige bezoek hadden to torsen” . In navolging van die gebruik van baksteen in die kerkgeboue wat deur Hendrik de Keyser (1565-1621) en sy opvolger Jacob van Kampen (1595-1657) opgerig is omrede dit ’n dekoratiewe karakter en ’n skilderagtige lewendige vertoning gegee het, het Klaas van Rijsse (jr.) en Sytze Wierda in Nederland en in die Zuid-Afrikaansche Republiek teen die einde van die negentiende eeu dit weer begin gebruik. Die steenbakkerskuns is oorspronklik deur die Romeine na Nederland gebring maar het saam met hulle ook weer uit Nederland verdwyn. Dit is weer in die twaalfde eeu deur die monnikke uit die suide van Europa begin gebruik. In en om Pretoria met sy ysteroksiedhoudende klei het president Kruger se Hollanders die baksteenbedryf ook in die Zuid-Afrikaansche Republiek gevestig. So was daar onder andere die steenfabrieke van G R Olckers, E B Wijers en Van der Broeke en J Schieke, wat ’n florerende bedryf in die vinnig ontwikkelende hoofstad beoefen het. Die bakstene het vir omstreeks vyftig jaar die elemente trotseer en in 1931 is die buitenste laag bakstene van die kerkgebou van die Gereformeerde gemeente Pretoria deur ’n harder kwaliteit baksteen vervang, sonder om die vorm en karakter van die gebou te verander. Die Nederduitse Gereformeerde kerk in Bosmanstraat Pretoria is in 1904 voltooi en in 1950 is die buitenste laag bakstene ook deur blou- en rooikleurige bakstene vervang. Die kerk is op 10 Junie 1950 heringewy. Die gietyster vir stutte en die dakkonstruksies van die Gereformeerde kerkgebou Pretoria is van Walter Macfarlane en Co van Glasgow, Skotland, verkry. Volgens ’n patroonboek met gietysterversierings is die omheining van die nuwe kerkgebou deur die heer S Marks bestel en aan die kerk geskenk. E Bourke het sy aanbod van £250 vir die omheining gestand gedoen. Om die kerkgebou verder to beskerm, is besluit dat die kerkhekke oop sal wees "voor de wagens of rijtuigen van menschen die ter kerk komen” . Teenoor die woning van die staatspresident S J P Kruger (erf 352) het die sierlike kerkgebou van die Gereformeerde gemeente Pretoria verrys wat pro-porsioneel by die intieme huisbou van Pretoria in 1898 aangesluit het. Die huise en winkels was almal enkelverdiepings en net die kerkgebou het uitgetoring, maar nie die omgewing oorheers nie. Die Gereformeerde kerkgebou Pretoria met sy eklektiese bouvorm is deur die Nederduitse Gereformeerde kerk, Bosmanstraat, Pretoria (1904) en die Nederduitsch Hervormde kerk, du Toitstraat, Pretoria (1906) nagevolg. Soos Gé Verheul dorpskerke in Nederland wat die eeue trotseer "trouwe wachters uit de middeleeuwen" genoemhet, kan die drie neo-Renaissance kerkgeboue wat in die middestad van Pretoria rondom 1900 verrys het, ook met reg wagters van die eklektiese boustyl van 1900 genoem word. (INLIGTING OORGENEEM UIT DIE M-VERHANDELING VAN H.TURKSTRA (1988) |