Bostaande is 'n unieke foto van die eerste ou kruiskerk van die Gereformeerde kerk Pretoria. Met dank aan prof Rikus Fick wat hierdie foto bekom het....
Flitse op die geskiedenis van grond en geboue

Op 24 Januarie 1863 het die kerkraad besluit om die volksraad te vra vir die skenking van "een welgelegen stuk grond ...voor het bouwen van een kerk". Die stuk grond wat die kerkraad aanvanklik gevra het was gelee aan Skinner-en Markstraat. Op 24 Julie 1863 het die kerkraad verneem dat die gevraagde grond nie toegeken is nie, maar 'n beter stuk grond, gelee tussen Pretorius en Kerkstraat.
Baie kort hierna is die leraar (Ds. Dirk Postma- woonagtig te Rustenburg) versoek om bouplanne gereed te kry, "sodat die kerkgebou later as 'n pastorie ingerig kan word". Daar is nie 'n foto beskikbaar van die eerste kerkgebou nie, wat ook bekend staan as die "Gereformeerde hulpkerk" . In 1863 was hierdie hulpkerk so ver gevorder dat godsdiensoefeninge en eredienste reeds in Oktober 1863 daarin gehou kon word.
Die kerkgebou soos op die foto is 'n groot deel van die planne vir die struktuur deur ds. NJR Swart onderneem. Ds. Nicolaas Jacob Renier Swart was die eerste voltydse leraar van die Gereformeerde kerk wat in Pretoria gewoon het. Ds. Swart het reeds in die vorige paar jare met die bouwerk van die kerke in Potchefstroom en Rustenburg sy deel gedoen waar hy daar ook aangebied het om met die bouwerk te help. 'n Vernuftigheid wat hy al in Colesberg opgedoen het. Dieselfde ds. Swart het op 12 Januarie 1867 die ingebruikneming van die Gereformeerde kerk op Potchefstroom waargeneem.
Baie kort na ds. Swart se aankoms (Oktober 1866) is daar reeds planne beraam om 'n verbeterde kerkgebou op te rig. Reeds in Desember 1866 is die tender vir die bou van die kerk in die "Goeverments Courant" geplaas en het Johannes Arnoldi aangebied om die gebou op te rig. Die reghoekige kerk, wat hy sou bou, se struktuur was bekend in daardie tyd waar dit ook genoem is die "waenhuiskerk". Paul Kruger het dadelik sy hulp aangebied deur 125000 stene vir die kerkgebou te laat bak. Dit sou aanvanklik 'n langwerpige gebou wees met 'n staandak en gewels. Die ingang tot hierdie gebou het na die noorde gewys. Die preekstoel is teen die suidelike muur geplaas. In elk van die symure is drie vensters aangebring en die konsistorie is agter die kanselmuur gebou. Op 8 April 1867 was die bouwerk reeds so ver gevorder dat die hoeksteen op hierdie Maandag op uitnodiging deur die staatspresident MW Pretorius gele kon word. 6 Julie 1867 het Arnoldi 'n dringende skrywe tot die kerkraad gerig dat sy stene en brandhout onvoldoende is.
Gedurende 1868 sou die gebou voltooi word in die tyd wat ds. Swart vir 6 maande na Europa gegaan het. In die tyd van sy afwesigheid het die bouprogram 'n wending geneem deurdat Arnoldi voorgestel het deur twintig kamertjies langs die pastorie aan te bou. Alle kopers (huurders) van hierdie kamers moes lidmate van die Gereformeerde kerk van die ZAR wees. 'n Groot gedeelte van die persone aan wie die kamers toegeken was, was dieselfde mense wat reeds by die stigting van die Gereformeerde kerk in 1859 'n prominente rol kon vervul.
In 1872 het die "waenhuiskerk" die "kruiskerk" geword deurdat daar in die bittere moeilike jare van "doodsheid in staat en gemeente" tydens die bediening van ds. JSL Venter besluit is om die kerkgebou te vergroot. Daar was baie klagtes in hierdie tyd oor die swak bywoning van eredienste, en selfs was die gebruik van die sakramente ook verwaarloos. Met tye kon ds. Venter se traktement nie aan hom gegee word nie! Tog was die kerkgebou te klein, veral die feit dat "gedurende Avondsmaaltijden zoo vele leden moeten buiten staan". Die pastorie het in hierdie tyd ook dringende aandag geverg. Die aanvanklike reghoekgebou het 'n kruiskerk geword deur die "arms" wat by die reghoekstruktuur aangebou was. 19 Desember 1877 was die finale aanbouings afgehandel. Die kruisbouplan het meer ingrypende veranderings behels deurdat ook die vroeere hoofgebou verleng was om die konsistorie in te sluit en deur hierdie plan was die gebou eintlik in drie groepe verdeel. Dieselfde planne by die verandering van die kerkgebou van Rustenburg was by die in Pretoria gevolg. Al was daar sulke groot veranderinge aangebring het hierdie gebou steeds aan die vereistes voldoen aan die vereistes wat die Calvinistiese liturgie aan die erediens stel. Die kansel was steeds die middelpunt op die sentrale as van die gebou ingerig.
Baie kort hierna is die leraar (Ds. Dirk Postma- woonagtig te Rustenburg) versoek om bouplanne gereed te kry, "sodat die kerkgebou later as 'n pastorie ingerig kan word". Daar is nie 'n foto beskikbaar van die eerste kerkgebou nie, wat ook bekend staan as die "Gereformeerde hulpkerk" . In 1863 was hierdie hulpkerk so ver gevorder dat godsdiensoefeninge en eredienste reeds in Oktober 1863 daarin gehou kon word.
Die kerkgebou soos op die foto is 'n groot deel van die planne vir die struktuur deur ds. NJR Swart onderneem. Ds. Nicolaas Jacob Renier Swart was die eerste voltydse leraar van die Gereformeerde kerk wat in Pretoria gewoon het. Ds. Swart het reeds in die vorige paar jare met die bouwerk van die kerke in Potchefstroom en Rustenburg sy deel gedoen waar hy daar ook aangebied het om met die bouwerk te help. 'n Vernuftigheid wat hy al in Colesberg opgedoen het. Dieselfde ds. Swart het op 12 Januarie 1867 die ingebruikneming van die Gereformeerde kerk op Potchefstroom waargeneem.
Baie kort na ds. Swart se aankoms (Oktober 1866) is daar reeds planne beraam om 'n verbeterde kerkgebou op te rig. Reeds in Desember 1866 is die tender vir die bou van die kerk in die "Goeverments Courant" geplaas en het Johannes Arnoldi aangebied om die gebou op te rig. Die reghoekige kerk, wat hy sou bou, se struktuur was bekend in daardie tyd waar dit ook genoem is die "waenhuiskerk". Paul Kruger het dadelik sy hulp aangebied deur 125000 stene vir die kerkgebou te laat bak. Dit sou aanvanklik 'n langwerpige gebou wees met 'n staandak en gewels. Die ingang tot hierdie gebou het na die noorde gewys. Die preekstoel is teen die suidelike muur geplaas. In elk van die symure is drie vensters aangebring en die konsistorie is agter die kanselmuur gebou. Op 8 April 1867 was die bouwerk reeds so ver gevorder dat die hoeksteen op hierdie Maandag op uitnodiging deur die staatspresident MW Pretorius gele kon word. 6 Julie 1867 het Arnoldi 'n dringende skrywe tot die kerkraad gerig dat sy stene en brandhout onvoldoende is.
Gedurende 1868 sou die gebou voltooi word in die tyd wat ds. Swart vir 6 maande na Europa gegaan het. In die tyd van sy afwesigheid het die bouprogram 'n wending geneem deurdat Arnoldi voorgestel het deur twintig kamertjies langs die pastorie aan te bou. Alle kopers (huurders) van hierdie kamers moes lidmate van die Gereformeerde kerk van die ZAR wees. 'n Groot gedeelte van die persone aan wie die kamers toegeken was, was dieselfde mense wat reeds by die stigting van die Gereformeerde kerk in 1859 'n prominente rol kon vervul.
In 1872 het die "waenhuiskerk" die "kruiskerk" geword deurdat daar in die bittere moeilike jare van "doodsheid in staat en gemeente" tydens die bediening van ds. JSL Venter besluit is om die kerkgebou te vergroot. Daar was baie klagtes in hierdie tyd oor die swak bywoning van eredienste, en selfs was die gebruik van die sakramente ook verwaarloos. Met tye kon ds. Venter se traktement nie aan hom gegee word nie! Tog was die kerkgebou te klein, veral die feit dat "gedurende Avondsmaaltijden zoo vele leden moeten buiten staan". Die pastorie het in hierdie tyd ook dringende aandag geverg. Die aanvanklike reghoekgebou het 'n kruiskerk geword deur die "arms" wat by die reghoekstruktuur aangebou was. 19 Desember 1877 was die finale aanbouings afgehandel. Die kruisbouplan het meer ingrypende veranderings behels deurdat ook die vroeere hoofgebou verleng was om die konsistorie in te sluit en deur hierdie plan was die gebou eintlik in drie groepe verdeel. Dieselfde planne by die verandering van die kerkgebou van Rustenburg was by die in Pretoria gevolg. Al was daar sulke groot veranderinge aangebring het hierdie gebou steeds aan die vereistes voldoen aan die vereistes wat die Calvinistiese liturgie aan die erediens stel. Die kansel was steeds die middelpunt op die sentrale as van die gebou ingerig.
Die preekstoel wat in die tweede Gereformeerde kerkgebou gebruik was. Die preekstoel is gemaak deur Gerrit L Pierneef die vader van die latere bekende skilder Jacob Hendrik Pierneef.
|
Hierdie is 'n redelik naby foto van die preekstoel in die kruiskerk in gebruik. Op 'n volgende afbeelding is die preekstoel in gebruik waar Paul Kruger aan die woord is...
|
Paul Kruger op die preekstoel.

Die kruiskerk met twee wonings sigbaar. Die huis die naaste aan die kerkgebou was die eerste Krugerhuis en die huidige Krugerhuis (eintlik sy derde huis) is heel links sigbaar.
GEREFORMEERDE KERK PRETORIA-Kerkgeboue
'n Artikel saamgestel deur Nandor Sarkady
Tydens die herdenking van die 150jarige bestaan van die gemeente (15-16 Mei 2009) is daar heelwat klem gelê op die stigtings geskiedenis van die gemeente. Hierdie stuk gee nie daaraan aandag nie, maar wil bondig die oprigting van die onderskeie kerkgeboue in gedagtenis bring en ten slotte die boukuns van die huidige gebou plaas teen die agtergrond van soortgelyke geboue in en om Pretoria omdat hierdie kerkgebou nie in isolasie opgerig is, of bestaan nie.
Die klassieke kerkbouvorms van protestantse kerkbou in Suid-Afrika word almal gesien in die verskeie kerkgeboue wat die gemeente gehad het sedert 1863. Aanvanklik was daar ‘n sogenaamde “hulpkerk” wat in 1859 opgerig is by Pienaarsrivier in die vorm van ‘n rietkerk. Na 1863 is daar op die dorp gebou. Eers ‘n waenshuiskerk later omvorm tot kruiskerk en ten slotte die huidige monumentale kerkgebou. Daar is vir hierdie oorsig swaar gesteun op Hiltje Turkstra se MA-verhandeling, Die Gereformeerde Gemeente Pretoria 1859-1930, Departement Afrikaanse en Nederlandse Kultuurgeskiedenis, Universiteit van Pretoria, 1988. Vir diegene wat in die algemeen in die bydrae van die Gereformeerde Kerke tot kerkbou in Suid-Afrika belangstel, sal die MA-verhandeling (UP 1969) van J Celestine Pretorius met die titel Die aandeel van die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika aan die kerkbou – ‘n kultuurhistoriese benadering, ‘n besonder interessante werk wees. ‘n Meer populêre werk verskyn later hierdie jaar. Die eerste gebou op die dorp - ‘n paalkerk Tydens die openbare kerkraadsvergadering van 24 Januarie 1863 is besluit om ‘n versoekskrif aan die Uitvoerende Raad van die ZAR te rig om tot kerkbou oor te gaan.(Turkstra p 44). Hierin word gevra vir grond op die dorp om kerk te bou. Aanvanklik gaan dit om erwe geleë aan Marktstraat en Skinnerstraat. Dit is nie toegestaan nie en in die winter kry die gemeente beter erwe. In April 1863 word reeds beplan om ‘n paalkerk as “noodkerk” op te rig. (Dit was algemeen in die ZAR en soortgelyk aan Rustenburg se eerste kerkie. ‘n Staandak met mure van pale wat in ‘n reghoek of vierkant ingeplant was. Die vloer was van miershoop met beesmis gesmeer.) Nadat die ses erwe tussen Pretorius-en Kerkstrate (waaronder die huidige kerkgrond) besigtig is, word egter besluit om eerder ‘n huis van gebrande steen op te rig waarin kerkdienste gehou kon word, met die bedoeling dat dit later ‘n pastorie kon word. Die hoogte van die gebou was 12 vt (360cm) onder die balke, terwyl die wydte van die gebou die lengte van balke van 20vt (240cm) moes wees. Die lengte van die gebou was 53 vt (18meter). Hierdie afmetings is interessant omdat heelwat kerkies in die land opgerig is met hierdie afmetings. Die rede was dat die lengte van die waens wat hout vervoer het die balklengtes en dakhoogtes bepaal het. Hierdie sogenaamde hulpkerke was voorlopig en vinnig opgerig totdat ‘n permanente gebou opgerig kon word. In Oktober 1863 was hierdie gebou aan Pretoriusstraat se kant van die erwe, gereed. Die waenhuiskerk, 1867 – later ‘n klein kruiskerk Ds. NJR Swart het hom beywer vir ‘n verbeterde kerkgebou. In Desember 1866 het tenders uitgegaan en JN Arnoldi het daarop getender. Hierdie kerk sou ‘n waenhuiskerk of reghoekige kerk genoem word en was algemeen in Suid-Afrika. Dit is trouens ook ‘n baie ou Christelike basiliek vorm en die protestantse liturgie word so gekomplimenteer. Hierdie gebou laat mens dink aan die ou kerkie op Potchefstroom wat steeds staan (p55). Maar ook aan die pragvoorbeelde op byvoorbeeld Colesberg, Venterstad en Strydenburg. Die langwerpige struktuur is so beplan dat die ingang vanuit die noorde was en die preekstoel teen die suidmuur. Die oostelike en westelike mure was dus die lang symure met drie vensters aan elke kant. Die konsistorie was agter die suidemuur geplaas. Die hoeksteen is op 8 April 1867, op uitnodiging deur president MW Pretorius (geen lidmaat), gelê. Reeds in 1872 is daar vermelding dat die kerkgebou tydens Nagmaal te klein was en baie buite moes staan. Daarom is na vergroting gekyk. Dit sou beteken dat die waenhuisvorm in ‘n kruis grondplan verander sou word. Dus ‘n hoofas met kort sy-arms. Die grasdak is met sink vervang en die mure met steunbere gestut. Aan die einde van die kort arms van die kruis was een spitsboog (neo-gotiese)-venster ingebou. Die ingang was steeds noord. Die kerkbanke het weerskante van die middelpaadjie gestaan. Dit was ‘n tipiese klein kerkie wat oral in Suid-Afrika te siene was. Hierdie vergroting tot ‘n klein kruiskerk was teen 1877 afgehandel. (pp. 68-71). LW. Die kerkie van 1867 is dus in wese twee keer vergroot. Die laaste keer in 1885. Die vergroting tot volwaardige kruiskerk – 1885 Die laat 1870’s was ‘n moeisame tyd vir die gemeente, finansieel en geestelik. Swak kerkbywoning en swak offergawes was aan die orde van die dag. Onder die bediening van ds P. Postma sou sake binne kort bestek na sy ampsaanvaarding, in Julie 1882, regruk word, al het die lidmate se aanvanklike entoesiasme weer na die vergrote kerk gebou is, getaan. Tydens sy bediening is die kerk vergroot en later selfs ‘n nuwe een gebou. Aan die einde van 1884 is daar weer druk sprake van vergroting. Daar het ‘n boukommissie bestaan (pp.81-82). Alhoewel boutekeninge nie meer bestaan nie is dit duidelik dat die grondplan van Rustenburg se kerkgebou die inspirasie was. Op die lengte-as wat noord-suid gelê het is nou ‘n volle dwarsbeuk (oos-wes) getrek. Die ruimte is daardeur baie vergroot (tot ongeveer 500 sitplekke) met die preekstoel teen die suidelike muur. Kennis en ervaring van die bouers, ouderling GL Pierneef (die skilder JH Pierneef se vader) en H Dijksterhuis was van groot waarde tydens die projek. Die bouwerk is deur dié twee here nougeset uitgevoer sodat die voltooide gebou op 16 Oktober 1885 volgens beplanning weer gebruik kon word. (p 85). De Maanbode van 1 Desember 1885 beskryf die kelkvormige kansel (vervaardig deur Gerrit L Pierneef) as opvallend ‘n - “eenvoudig en toch nette kansel”. Dit was swart geverf met dof vergulde rande. Daarbo was ‘n agtkantige klankbord. Die kansel is later aan die Nasionaal Kultuurhistoriese Museum in Pretoria geskenk. Die plafon se timmerwerk was as uitnemend beskou. Die sinkdak het ‘n kloktoring op gehad. Die neogotiese vensters is geaksentueer met verhoogde pleisterwerk wat van vroeg-Gotiese (voor ca 1300) styl was, wat in ‘n enkele blom (hogel) uitgeloop het. In die rame was gekleurde glas-in-lood vensters. (Kleur nie deur Turkstra vermeld). In hierdie kerkie het daar reeds ‘n harmonium gestaan en Petrus van den Burg, ‘n bekende in musiekkringe, het dit bespeel. (Die kerkraad het gedurig melding gemaak dat die sang agteruit gegaan met geen vaste voorsangers nie) Hy het ‘n nuwe Sauer-orrel vir die gemeente in Duitsland laat aankoop, wat in Junie 1893 in Pretoria aangekom het en steeds in gebruik is. Die plafon van die kerkgebou moes verhoog word omdat die orrel te hoog op die galery gestaan het. (Turkstra meld nie elders iets oor die galery nie.) Hierdie kerkgebou waarvan talle historiese foto’s bewaar gebly het, het na 1897 verwaarloos en is ongelukkig in 1910 verkoop aan die staat en toe gesloop. Enkele van die vensters het behoue gebly en is volgens mondelinge oorlewering (p 195 G. Braaksma) ingemessel gewees in die Ned Herv Kerkie in Fredrikastraat, Innesdal. (Later verkoop aan die Vrye Gereformeerde Kerk. Hierdie aanvanklik Nederlandse gemeente het dit in 1985 verkoop en die gebou is gesloop, maar die vensters weer uitgehaal en geplaas in die portaal van die huidige kerkgebou van Gereformeerde Kerk Die Kandelaar, Waverley. Ander bronne meld egter dat dit die vensters was van die kerk wat in 1905 op kerkplein gesloop is en sodoende in die Hervormde Kerk beland het.) Terloops, al drie erwe in Pretoriusstraat is verkoop, maar twee erwe wes van Potgieterstraat is behou. Die tweede kruiskerk of Krugerkerk (1896/97) Tydens Nagmaal en Kerstyd was die opkoms by eredienste geweldig groot. Al die kinders en baie belydende lede moes dan buite staan. Die saak van die te klein kerkgebou het reeds in 1892 ter tafel gekom. Eers sou die saak opgelos word deur galerye in die sy-arms te oorweeg. Ouderling (argitek) Klaas van Rijsse het op die saak ingegaan. Hy het in Maart 1893 aan die kerkraad gerapporteer dat die aanbouings te duur is en nie die moeite werd nie. Hier is die eerste grondplan vir ‘n nuwe kerkgebou reeds gegee. Hierdie planne is nie deur almal goed ontvang nie om verskeie redes, en sake is uitgestel, maar nie afgestel nie. Een van die redes was dat enkele wyke oos van Pretoria geglo het dat ‘n buitekerk tussen Middelburg en Pretoria die oplossing sou wees. Dit was egter nog onseker waar die dorp aangelê sou word. Hier word na Bronkhorstpruit (Erasmus) verwys. Dié gemeente is egter eers na die oorlog in 1904 gestig. Die Boufonds het egter steeds aandag gekry en goed gegroei. Teen begin 1896 is tenders ingewag. Die laagste tender vir 10 758 pond is aanvaar. Die Nederlandse argitek ouderling Klaas van Rijsse was sedert 1887 die “Goeverments Ingenieur en Architect” van die ZAR. (Hier was hy eintlik tweede in beheer van die ZAR se Departement Openbare Werk onder Sytze Wierda.) Hy was reeds bekend met sy voorlegging vir die nuwe Goewermentsgebou en ander regeringsgeboue en in vennootskap met EJ Vixseboxse (bekende Vrystaatse argitek) het hulle die Paviljoen van die ZAR op die wêreldtentoonstelling van 1894 in Parys, Frankryk ontwerp. Hy was ‘n aanwins vir die gemeente omdat hy ‘n voorliefde vir kerkboukuns gehad het. Hierdie besondere kerkgebou, maar ook die NG Kerk se kerkgebou in Bosmanstraat (1903) saam met Wijers bewys dit. Hy het ook die herehuis Parkzicht ontwerp, wat ongelukkig later gesloop is. Hierbenewens het hy ook die kerkgebou op die melaatse inrigting Westfort ontwerp en die Gereformeerde Kerk Vryheid. Ongelukkig het die oorlog sy loopbaan in Pretoria beindig. Na 1902 het hy na Nederland teruggekeer. Die boukommissie wat Van Rijsse bygestaan het was: Ds P Postma, R Turkstra, TJ Collins, FC Eloff (kassier), G Pierneef, P Kruger en ABK Herman (buitewyke). Die bouaannemers was Daanen en Dorlas. (Laasgenoemde ‘n lidmaat van die Ned Herv Gemeente Pretoria en in 1904 betrokke by die oprigting van die kerkgebou in Du Toitstraat). Die Kerkraad het besluit om die Pres SJP Kruger, ‘n getroue lidmaat te versoek om die hoeksteenlegging op 10 Oktober 1896 om 10vm waar te neem. Die kerk sou gebou word op erf 352 ten noorde van die ou kerk en dus oorkant die presidentswoning. Die dagblad De Volkstem het die deftige program van die dag in besonderhede beskryf. (Die gewigtige besluit rondom kerkbou was ook direk aanleidend dat ‘n brandkluis aangeskaf is vir die kerklike argief, waarin al die belangrike dokumente bewaar is. Dit toon ook die verantwoordelikheid waarmee sake hanteer is.). Geldinsameling het voortgegaan te midde van die runderpes wat die boere geweldig geknou het. Grond op plase sover as Potchefstroom is geskenk aan die kerk en erwe uit erflatings is verkoop vir die boufonds. Die President het self ook ‘n donasie gemaak. Die ingebruikneming van die kerk (destyds inwyding) is beplan vir Kersdag 1897. By die geleentheid sou ds Jan L Cachet van die Teologiese Skool op Potchefstroom die rede lewer. Die deure van die kerkgebou is na die lees van Psalm 100: 2-4, oopgesluit deur President SJP Kruger waarna Psalm 100: 3 en 4 gesing is. Hierdie gebou met 900 sitplekke was die uitkoms vir die gemeente wat toe ongeveer 1100 belydende lidmate en 1000 dooplede getel het, in en ver om die hoofstad. Die argitektuur van die kerkgebou Hierdie kerkgebou was naas die kerk op kerkplein die tweede groot kerkgebou van die Hollands-Afrikaanse kerke in die hoofstad. (Die Anglikaanse Kerk het reeds gespog met ‘n pragtige klipkerk, St Alban’s in Schoemanstraat.) Hierdie pronkstuk van die Nederlandse Neo-Renaissance het ‘n bepaalde styl aan Pretoria verleen wat later in ander kerkgeboue nagevolg is. Argitek Klaas van Rijsse het natuurlik nie die ontwerp en detail uitgedink nie. Hy is sterk beinvloed deur Nederlandse argitektoniese strominge. In die protestantse kerkboukuns van die 19de eeu is gestreef na ‘n samevoeging van verskeie vroeër Christelike style ( basiliekvorm, Gotiek, Neo-Gotiese sentraalboustyle) om ‘n voorkoms te vind wat die gebou se uiterlike voorkoms en innerlike bestemming moes vertolk. ‘n Eklektiese (dit is ‘n samevoeging van style) boustyl het ontwikkel in die 19de eeu. Van Rijsse het dit egter nie slaafs nagevolg nie. Hy het veral gesteun op die klassieke Nederlandse Renaissance-styl wat Hendrick de Keyser rondom 1620 ontwerp het. As ‘n voorbeeld van hierdie styl sou waarskynlik die Nederlandse Hervormde Westerkerk aan die Keizersgracht in Amsterdam kom wees. Hierdie klassieke styl het na 1870 in Nederland herleef. Van Rijsse is ook sterk beinvloed deur die groot argitek in die ZAR Sytze Wierda van wie hy ‘n leerling was. Wierda het in Nederland kerke ontwerp wat treffende ooreenkomste toon met hierdie gebou en waaruit Van Rijsse duidelik geput het. Voorbeelde van sy werk is die Christelijke Gereformeerde Kerk Zaandam, die Gereformeerde Kerke te Nieuwendijk by Almkerk en die elegante dorpie Baarn se Gereformeerde Kerk (1879/80). Dr Herman Rex, vorige argivaris van die Ned Herv Kerk, het in sy D Phil (1974 UP) oor die lewe en werk van SW Wierda ‘n besondere bydrae verleen. Die gebou is op ‘n Griekse kruisplan uitgevoer (met een arm afgesny.) Die hoeke tussen die arms is in die binneruimte ingetrek waardeur ‘n agthoekige plan ontstaan het. Die kerk het besondere hoë mure en buite geen steunbere nie. Die struktuur word met behulp van trekstange uit die dak en en mure (deur natuursteen konsoles), verberg. Hierdie gietyster stukke is van die bekende firma Walter Macfalane & Co in Glasgow, Skotland ingevoer. Die kunstige versierings van die vliering is uit dennehout en begrens in ‘n mate die ruimte. Daar is ‘n simmetriese opbou, Gotiese konstruksie metodes, klassisistiese bou –en versieringsvorme en die gebruik van baksteen en liggrys natuursteen vir hoekbande. Hierdie ligte siersteen speel ‘n belangrike rol. Dit bring die ewewig met die hoë toring deur die horisontale lyne te beklemtoon. Hierdie ewewig skep ‘n verfynde harmonie wat selde aandag in geboue kry. Baie aandag is gegee aan die effektiewe gebruik van die binneruimte. Die liturgiese ruimte word goed gebruik vir Woord en Sakrament waardeur die kansel (in die middel, nagmaalstafel en doopvont bymekaar staan.) Die eikehout kansel is ‘n absolute blikvanger. Dit is ryk versier met ‘n klankbord wat met ‘n oop lantern versier word en die toring weerspieël. Die preekstoel is ingevoer vanaf die firma CH Eckardt in Rotterdam. Die sentrale plasing van die preekstoel word deur die loodregte plasing van die banke in drie arms beklemtoon. Dit is soos die 17de eeuse sitplek plasing was en het hier gelukkig behoue gebly. Vaste bankplanne dateer uit die 19de eeu en toe is die meeste groot kerke in Suid-Afrika opgerig. Baie Suid-Afrikaanse kerke het met sogenaamde resourasie in die 1950’s (wat soms eerder ‘n aanranding van geboue was) van die ou banke ontslae geraak en halfmaanvormige moderne banke ingesit. Die mans het in die banke gesit en die vroue en kinders op die stoele in die middel. Die skeiding van die geslagte was in die eerste helfte van die 20ste eeu in verskeie gemeentes nog gebruiklik. Die twee neo-Rococo styl stoel uit ca 1890 voor in die kerk is ‘n persoonlike herinnering aan twee lidmate, President en Mev Kruger. In 1981 is die stoele tot nasionale gedenkwaardighede verklaar. Die Noord Nederlandse Neo-Renaissance boustyl word veral sigbaar in die toring met balustrades, klokkamer, lanterns ensomeer. Die metaalgedeelte bo die kloktoring met die kenmerkende peerversiering is in geheel van die firma Braat in Delft ingevoer. In die ZAR het ‘n toring nie ‘n sosiale funksie gehad vir byvoorbeeld brand nie, maar veral ‘n stuk status en deftigheid verleen omdat die kerk immers so belangrike plek was. In die toring word die kerk betree en die mooiste element is ongetwyfeld die fyn kruisgewelf van steen. Die middelrisaliete in die oostelike en westelike vleuels bied twee toegangsportale. Dit is ‘n aparte bouelement. Die ander toegange is die eikehout spiraaltrappe wat ontwikkel is deur Wierda. Die kegels bo hierdie trapportale het in 1931 verdwyn na herstelwerk gedoen is. Die elektriese koperkroonlugters is nog in 1897 deur die firma Delfos Bros. aangebring. Die fondse hiervoor is deur die susters van die gemeente ingesamel. Die nuwe elektriese verligting moes geweldig indruk op alle kerkgangers gemaak het. Die gebruik van baksteen aan die buitekant verdien besondere vermelding. Dit is ook ‘n kenmerk van die boustyl soos hierbo beskryf en die Hollanders was vernuftig met messelwerk. Rondom Pretoria was daar verskeie steenfabrieke as gevolg van die ysteroksied houdende klei. In 1931 is die buitenste laag stene deur harder stene vervang sonder dat die vorm en karakter verander het. Dit blyk ook uit verskeie foto’s van voor 1931. Die kerk tydens die Oorlog 1899-1902 en daarna Baie dorpe se kerke is in die oorlog verrinneweer. Ons moet vandag baie dankbaar wees dat hierdie lot die kerk oorkant die president se woning gespaar gebly het. Mev Gezina Kruger gebore Du Plessis is op 20 Julie 1901 tydens die Engelse besetting oorlede. Haar begrafnis het uit die kerkgebou (en nie die presidentswoning nie), plaasgevind. Daar was ironies genoeg ‘n Engelse erewag uit eerbied vir die begrafnis. Twintig mans sou sneuwel en 20 mans en vroue en 202 kinders uit die gemeente is in die kampe oorlede. Dr KS van Wyk de Vries het gemeen dat die oorlog 10% van die sieletal geëis het. Na die sloop van die ou kerk in 1910 was daar ‘n gedurige tekort aan vergaderruimtes. Die jeug het van huis tot huis getrek en die susters het in die pastorie byeengekom en hulle linnekas daar gebêre. Daar is aan die kerk se ventilasie gewerk en in die 1920’s is swaar groen gordyne is op die galery gehang om son uit te hou. Dit is in hierdie tyd tussen 1920-1925 dat die gemeente finaal ‘n stadsgemeenskap in plaas van ‘n plattelandse gemeenskap geword het. Hierdie verstedeliking van die Afrikaner het groot omwenteling gebring. In 1930 het die eerste stadsgemeente, naamlik Pretoria-Oos afgestig. In 1930-31 is groot herstelwerk onderneem en weer in 1951. Daar kan egter nie nou hierop ingegaan word nie. Vanaf 1969 het ds MJ Booyens homself beywer om die kerkgebou met omliggende erf tot nasionale gedenkwaardigheid te laat verklaar wat in 1983 gebeur het. Die plek van die kerkgebou in Pretoria en kultuurhistoriese waarde Die kerkgebou was in die Pretoria van 1897 besonder indrukwekkend, ook omdat dit nie op kerkplain gestaan het, waar die staatsgeboue was nie. Dit het rondom alles uitgetroon sonder om grotesk te lyk. Dit blyk uit die verskeie beskrywings van Pretoria in dagblaaie en boeke van die tyd. Die kerkgebou was nie ‘n argitektoniese frats wat misplaas was nie, maar ‘n deftige baanbreker in kerkargitektuur. Na die oorlog sou hierdie argitektuur verder uitgebou word in die NH of G Kerk Bosmanstraat (1903) en die Ned Herv Kerk Du Toitstraat (1905). Ook die Ned Herv Kerk op Bronkhorstruit (1912) vertoon nog sterk elemente van hierdie boustyl. Buiten die kerkhistoriese waarde het die gebou dus ‘n sterk argitektoniese en kultuurhistoriese waarde en dit moet ook vandag deur die gemeente besef word. Soveel mense met verskeie belangstellings het belang by hierdie historiese gebou. Of dit argitektonies, histories of kerklik geinspireer is maak nie saak nie. Die ryk verbintenis met die gemeente se bekendste lidmaat, Pres Paul Kruger, het hierdie pad begin. In Suid-Afrika is daar ongelukkig steeds ‘n gebrekkige waardering vir die waarde van kerklike historiese ruimtes en dit word nie genoeg ontgin en versterk nie. Of ons dit wil weet of nie historiese kerkgeboue het dikwels ‘n verborge manier om tog iets van Gods Woord tuis te bring deur die simboliek wat dit as “huis van die HERE” oordra in die geslagte en op die plek waar dit staan as getuienis dien. In Europa byvoorbeeld, met ‘n baie langer en ryker geskiedenis van kerkgebou, toon aan dat bewaring belangrike is en goed en smaakvol gedoen moet word. Binne ons Gereformeerde tradisie is oor die hele Suid-Afrika op soveel plekke mooi en kerkgeboue opgerig waarsonder meeste dorpe ‘n baie arm geskiedenis sou hê. Sommige monumentaal soos hierdie, ander treffend in hul eenvoud gebou uit die klip van eie bodem. Doen ons naastenby genoeg om die ryk geestelike en stoflike inhoud vir die nageslag te bewaar ? Die bewaring en restourasie van veral die interieur van ons historiese kerke is soms skokkend. Mag die Gemeente in die jaar van haar 150ste herdenking bly besef hoe groot die verantwoordelikheid en voorreg is om hierdie historiese kerkgebou, wat nou so goed in stand gehou word, te bewaar en te gebruik. Die gemeente kan hierin ‘n leidende rol speel in Pretoria en in die Gereformeerde Kerke. Nándor Sarkady Pretoria 2009 |